Local newsNews

Skare verlustig hulle aan skouspelagtige vertonings

Verskeie bekende kunstenaars het gesorg vir 'n skop-jou-skoene-uit-en-ontspan-vertoning.

Uit die staanspoor het Emo Adams op die voorlaaste aand van Innibos, die kykNET Konsert behoorlik woema gegee soos nét die grapjas dit kan doen.

Hy wys op die verhoog dat hy ‘n skerp humorsin het en nie op platvloerse humor hoef staat te maak om snaaks te wees nie. Sy danspassies op die maat van onder meer “Gums kawiele wams” en “Tarantula” en sy ruimskerts opsigself, is genoeg om jou te laat skater. Hy bewys later in sy duet met Nàdine, in “Kaapse Draai (Aai Aai die Witborskraai)”, dat hy ook regtig kan sing.

Nàdine het verder gesorg vir ‘n skop-jou-skoene-uit-en-ontspan-vertoning, met treffers soos “Dressed for success” en Elvis Presley se “Can’t help falling in love”.
Janina Oberholzer, beter bekend as deel van die Toks en Tjops-span, het later die rol as seremoniemeester by Emo oorgeneem, en moes kort daarna ‘n tegniese probleem wat nagenoeg 20 minute se doodse stilte veroorsaak het, probeer toesmeer. Die besluit of sy daarin geslaag het, berus egter by die feesgangers wat geduldig gesit en wag het totdat die verrigtinge weer hervat kon word.

Die onderbreking was egter vinnig vergete toe die hartebreker Brendan Peyper, wat jou nie vir soveel as een snit sonder ‘n glimlag op die gesig laat nie, die verhoog betree het.
Appel se energieke optrede, gevolg deur ‘n duet deur Lia en Nàdine met “Rolling in the deep”, oorspronklik gesing deur Adele, is met luide applous toegejuig.

Die vermaak het egter onverwags die oortreffende trap bereik toe die Du Plessisse – Franja en Ruan wat in hulle ma Juantia se voetspore volg, die gehoor saam met “Kaalvoetkind” bekoor het.
Henk Opperman, beter bekend as Dozi wat volgende aan die beurt was, het sonder twyfel die kollig gesteel. “Tussen jou en my”, “Grassade in die wind” en natuurlik “Ou ryperd” was maar net ‘n handjievol oubekende treffers wat die voete behoorlik aan die jeuk gehad het.
Die popprinses Karlien van Jaarsveld, het ondanks haar derde swangerskap, steeds die gehoor aan haar lippe laat hang met gunstelinge soos “Hande” en “Geskeurde jeans”.
Die kunstenaar waarvoor talle bittereinders die koue trotseer het, was Theuns Jordaan. Sy rasperstem het die aand op ‘n hoë noot afgesluit, en die pad het opgeraak met een van SA se grootse treffers, “Soos bloed”.

Lees ook: Komedie-CRAWL ‘puik’

Rockers steel kollig op hoofverhoog

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button