
MBOMBELA – Amanda Strydom is Afrikaans se bekendste rocker, amokmaker, verleier en vryer. Nadat sy Saterdagaand met die Innibos-toekenning vir lewenslange bydrae vereer is, het sy hierdie titel gestand gedoen. “‘n Mens kry gewoonlik so ‘n toekenning aan die einde van jou loopbaan, maar ek kan nog rock in my taal!” het sy uitgeroep.

Diep basklanke en ‘n aansteeklike ritme het die grond laat dreun. Die legende – sexy op 61 – se stem het die onheispellende lirieke van “Hoor hoe brom die wind (Ek kan rock in my taal)” laat lééf. Andriëtte Norman, Monique en Corlea Botha het die verhoog as agtergrondsangers met haar gedeel. Sy het saam met haar ou vriend Stef Bos, “De taal van mijn hart” gesing.

Vir solank as wat sy op die verhoog was, was feesgangers in ‘n Amanda-beswyming.
“Ons loop al lank ‘n pad van ongekende vermaak saam met Amanda,” het Innibos-bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs gesê. “Dis die eerste keer in jare dat ‘n vrou hierdie toekenning wen,” het feesbestuurder Andy Lubbe bygevoeg. Hulle het kortliks na ‘n paar hoogtepunte van haar kleurryke loopbaan verwys. In 1979, as pas afgestudeerde aktrise, is sy opgeraap vir die hoofrol in Frans Marx se film, Pasgetroud.

Daardie jaar het sy haar eerste lied, Ek loop die pad geskryf. Dit is volksbesit en ‘n gedeelte daarvan is Saterdagaand deur Amanda opgevoer. In die vroeë 80’s was sy in musiekreekse vir televisie, musiekblyspele, kabarette en teaters te sien. In 1981 het sy as seremoniemeester tydens Met permissie gesê opgetree, ‘n revolusionêre kabaret wat die kwessies van apartheid-SA aangeroer het.
Amanda het in 1994 haar eerste eenvrouvertoning, State of the Heart, geskryf. Daarvoor het sy drie toekennings ontvang, onder andere die Dalro-prys vir die beste kabaret. “Hoor hoe brom die wind (Ek kan rock in my taal)” is in 1996 opgeneem. Sedertdien is sy met byna elke toekenning denkbaar vereer.
Sy het verlede week vir Laevelder gesê die Innibos-toekenning is vir haar ‘n ongelooflike groot eer. Dit is nie om dowe neute die publiek se gunstelingfees nie, maar die meeste kunstenaars s’n ook.
Amanda speel tans die rol van Belinda Eksteen in Binnelanders. Sy het sedert die fees Nederland toe gevlieg vir konsertoptredes. Sy tree sedert 2007 gereeld daar op en het reeds drie (Afrikaanse) musiekalbums daar vrygestel.

