‘Stop,’ sê die rooi lig?
Verwarring het by die kruising van Samora Machel-weg en Madiba-rylaan geheers.
MBOMBELA – “Stop, sê die rooi lig. Ry, sê die groen lig.” Die bekende woorde van ‘n ou Afrikaanse kinderliedjie prent van kleins af in hoe ‘n verkeerslig se kleure verstaan moet word. Maar hoe gemaak as die verkeerslig tegelyk rooi en groen flikker?
Dít is die dilemma wat inwoners sedert Sondagoggend in die gesig staar. Laevelder het aanlyn hieroor berig. Verwarring het by die kruising van Samora Machel-weg en Madiba-rylaan geheers, asook daar waar motoriste na Crossing en SARS kan afdraai.
Jenny Louw het op die situasie kommentaar gelewer. “Dit herinner my aan die verkeersligte by Halls & Sons se afdraai wat vir vier dae buite werking was,” het sy gesê, en gewonder wanneer dit herstel sou word.
“Dit is onaanvaarbaar!” het Madelaine Rosslee laat hoor. Letswele Sbhakela het gesê: “Enigiets is moontlik met hierdie munisipaliteit van ons.”
Laevelder het die Stad Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se woordvoerder, Joseph Ngala vir kommentaar geskakel maar kon hom nie teen druktyd opspoor nie.

