Bike Riders Against Farm Murders doen dit weer
Met die vlaag plaasaanvalle wat die land tans weer beleef, ry die plaaslike groepie ryers eersdaags Vrystaat toe, en almal is genooi.
MBOMBELA – Die Bike Riders Against Farm Murders (BRAFM) is op pad Vrystaat toe.
Na die groot sukses van die 911-rit in Mpumalanga vroeër vanjaar, beplan hulle een om hul bewusmakingsveldtog uit te brei en hulle waardering te betuig vir die verhoudings tussen landelike inwoners en die SAPD.
Die plan is om dit in elke provinsie te doen, voor hulle volgende jaar die memorandum aan die Uniegebou gaan oorhandig, verduidelik direkteur TJ Maré.
Lees meer oor onlangse plaasaanvalle in die Laeveld
Hulle boodskap is positief: dat mense saam moet staan om die landelike bevolking te beveilig. “Ons veg vir niks nie. Ons sê net, landelike veiligheid is belangrik,” sê Maré.
BRAFM is nie ‘n motorfietsryklub nie. Die ryers besoek gemeenskappe wat die memorandum onderteken. Dit word ook aan stasiebevelvoerders oorhandig. Al hulle handtekeninge word weer op ‘n memorandum aan die provinsiale polisiekommissaris oorhandig. Al die handtekeninge is uiteindelik bestem vir die nasionale eindpunt en die nasionale kommissaris.
Die plattelandse gemeenskappe waar hulle aandoen, verwelkom die ryers met ope arms. “Hulle is so dankbaar daar is iemand wat hulle saak bevorder.”
In Junie het sowat 80 motorfietsryers oor drie dae 23 polisiestasies regoor Mpumalanga besoek om memorandums oor die belangrikheid van landelike veiligheid aan stasiebevelvoerders te oorhanding. Dit is deur die plaaslike gemeenskappe onderteken. By elke besoekpunt is daar ook saam gebid.
Sien meer
Nou gaan hulle vanaf 1 tot 6 September by 30 polisiestasies in die Vrystaat aandoen. Hulle kom by Halls byeen en vertrek Bothaville toe waar hulle by die Muur van Herinnering, ‘n monument ter nagedagtenis aan die boere, families en werkers wat in plaasaanvalle dood is, besoek gaan aflê.
Die volgende oornagplekke is Bloemfontein, Smithfield, Clarens en Heilbron. Die rit eindig met ‘n ontmoeting met die provinsiale kommissaris in Sasolburg.
In Oktober toer hulle dan deur Limpopo, volgende jaar vir drie weke in die Kaap-provinsies, dan KwaZulu-Natal en eindelik, Noordwes en Gauteng.
Enigiemand is welkom om saam te ry. Jy kan aansluit en afsluit soos jy wil en kan. Jy moet net ten minste ‘n 400cc-motorfiets hê, en alle petrol en verblyf self betaal.
BRAFM verskaf wel ‘n opveevoertuig vir noodgevalle of gebeurlikhede op die pad.
Navrae: Maré by 911Rides@brafm.co.za of besoek brafm.co.za vir meer inligting.
