Local newsNews

Inwoners krap kop oor vreemde ongeluk in Rissikstraat

'n Ongeluk in Komatipoort se hoofpad het byna 'n slegte nadraai gehad toe omstanders die polisie begin beskuldig van nalatigheid en korrupsie.

KOMATIPOORT – ‘n Jaagtog het verlede Saterdagmiddag byna in ‘n tragedie ontaard toe ‘n voertuig gerol en ‘n boom getref het.

Na bewering is ‘n Mosambiekse motor rondom 12:15 in Komatipoort se hoofstraat deur ‘n polisievoertuig agternagesit nadat die bestuurder stoptekens by Lebombo-slaghuis en Komatipoort Akademie verontagsaam het.

LEES: Huldeblyke stroom in vir slagoffers van vliegongeluk

Die motor het teen ‘n hoë spoed in Rissikstraat voortgesnel en wou ‘n voertuig wat regs in Liebenbergstraat wou afdraai, verbysteek. Die bestuurder van dié motor het besef hier kom moeilikheid en het in die pad stilgehou.

Om ‘n botsing te vermy, het die Mosambiekse voertuig uitgeswaai, die randsteen getref, gerol en om ‘n boom op die sypaadjie tot stilstand gekom.

Die bestuurder was in die voertuig vasgepen, maar die vroulike passasier kon daarin slaag om uit te klim. Sy het op die sypaadjie gaan sit en wag tot hulp opdaag.

Die bestuurder van die voertuig wat nouliks aan die ongeluk ontkom het, het ‘n verklaring by ‘n polisielid afgelê.

Securicon Lowveld se taktiese eenheid het daarna opgedaag om hulp te verleen.

Na sowat 20 minute het van die omstanders se gemoedere begin hoog loop omdat die ambulans nog nie opgedaag het nie.

Hulle het beweer dat die polisie die ongeluk veroorsaak het en geskree dat sommige lede van die polisie Mosambiekse burgers teiken en omkoopgeld ontvang.

LEES: Mother and son of local family bedridden after terrifying accident

Die beseerde bestuurder was na 35 minute steeds in die motor vasgekeer en Securicon het ingespring om te help. Hulle het Nkomazi Munisipaliteit se rampbestuurspan ontbied en met die hulp van Securicon Emergency Services die man uit die motor bevry.

Volgens ooggetuies was hy nie ernstig beseer nie. Hy en sy passasier is met Securicon se ambulansdiens na die hospitaal geneem vir behandeling. Die staatsambulans het na bewering eers baie later by die toneel opgedaag.

Navrae oor die ongeluk is Maandagoggend aan die SAPD Komatipoort gerig, maar die kommunikasiebeampte het gesê dat geen saak geopen is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button