Local newsNews

Jonathan is terug op die been en so skerp soos altyd

Hierdie vermaerde komediant se grappe het baie om die lyf.

MBOMBELA – Jonathan van Radio Raps is verlede Vrydagaand met verbasing deur ‘n volgepakte arena begroet. “Kyk hoe maer is hy,” het verskeie lede van die gehoor laat hoor.

Die gewilde komediant het sweerlik ‘n groter gehoor gelok as die Steval Pumas wat dieselfde aand by Mbombela Stadion oortuigend met die Bulle afgereken het.

Talle mense het wel ‘n bietjie laat opgedaag en teen 19:15 eers hulle sit gekry, nadat Jonothan al op die verhoog was. Dit het hom kennelik nie gesteur nie, hoewel ‘n vrou wat later ingestorm het, duidelik op soek na haar man, hom net ‘n bietjie van sy storie af kon kry. Soos ‘n galante heer het hy natuurlik van die verhoog af na die man help soek.

Jonathan is gelyk hoflik en praat “normale braai-taal” wat nou maar vloekwoorde insluit.

Tussen suggesties oor lekker plukkies en stekies, het Mbombela voorwaar gewys hulle het vuil koppe. En groot waardering vir hierdie man se geselsies.

Jonathan skryf sy drastiese gewigsverlies toe aan sy “standaard-sewe-weke-ICU-dieet”.

Hy het onlangs gelyktydig hart-, nier- en lewerversaking gehad, saam met longontsteking, maar het herstel en drink nou nie meer nie. Natuurlik moes hy met sy dokter onderhandel oor die tydperk.
Hy dink drank is nou maar sleg, maar gee toe, en raai aan, dit laat ‘n man k@k maak. “Ons verloor goeie ouens so,” maan hy.

Dít gesê, kan ‘n mens byna oor die limiet gaan deur bloot na ‘n Savannah Lite-advertensie op jou karradio te luister, duidelik, wat jou ‘n “lekker trippie”, met alle verblyfskostes en vervoer betaal, reguit tjoekie toe kan gee, vertel hy uit ondervinding.

Hy hou nie van hospitaaljurke nie, of dokters se koue hande nie. Hoekom moet hulle vir ‘n halfuur voor hulle jou ondersoek hulle hande ‘n ysbad gee? Dis genoeg om iemand sonder hartprobleme, juis dit te gee. En die Latyns? Die arme pasiënt kan net maak asof hy glo wat die dokter sê.

Sy hospitaal-materiaal is dus nuut. Aangesien dit hierdie resensent se eerste Radio Raps-vertoning was, kan sy dus nie ‘n uitlating maak oor sy ander material nie. Dit is wel baie snaaks.

Sien ook

Jonathan háát vissmeer. Hoe kan enigiemand jou in die oë kyk en sê hulle is lief vir jou, soos jou ma, en dan dít op jou skoolbroodjie inpak?

Afrikaanse name interesseer hom ook. “Die Afrikaanse mens haat admin. Byname is nooit iets in die lyn van kantoorwerk nie. Faks, e-pos, paperclip, enigiemand?”

Hy is ook nie juis ‘n krieketaanhanger nie. Hoekom iemand ‘n 50-meteraanloop moet neem om ‘n bal 10 meter af te stuur, bly ‘n geheim vir Jonothan. So ook die onsigbare spinnerak wat die boulers so ‘n vreemde beweging laat maak wanneer hulle by die kolfblad aankom. Sekerlik kan die skeidsregter dit bloot wegvee, want, regtig, dit gebeur met die afstuur van elke bal!

Moet hom nie misloop wanneer hy die area weer besoek nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button