Editor's choiceLocal newsNewsBreaking News

Plaasaanval: ‘Lê plat of gaan dood’

Daar was vier verdagtes. Twee was gewapen. Hulle het bly sê; “We know everything.”

LYDENBURG – “Lay down or die!”

Dit is wat een van vier aanvallers Kuifie Mouton glo toegesnou het toe hy en sy vrou Karin gisteraand (Donderdag) op hulle plaas in die Weltevreden-distrik oorval en beroof is.

Steelburger/Lydenburg Nuus het die toneel vanoggend (Vrydag) besoek en met Karin gepraat oor die traumatiese gebeure wat tydens die plaasaanval afgespeel het.

“Ek het reeds geslaap. Kuifie het na 21:00 iets buite gehoor, na die voordeur geloop en die lig aangeskakel. Hy het aanvanklik gedink dat dit dalk die katte kan wees. Die vier verdagtes het toe reeds toegang tot die huis verkry. Hulle het die diefwering van een van die vensters verwyder.”

Na wat verneem word het hulle Kuifie vasgebind met stukke gordyn wat hulle afgeskeur het. Hulle het toe na die kamer beweeg waar Karin geslaap het.

“Een van die aanvallers het my aan my linkergewrig uit die bed getrek.  Hy het probeer om my trouring van my vinger af te forseer. Ek het gegil. Hy het vir my gesê om stil te bly en ek het my ring afgehaal en aan hom gegee.”

Karin is na dieselfde vertrek as Kuifie geneem en ook vasgebind. “Daar was vier verdagtes. Twee was gewapen. Hulle het bly sê;  “We know everything.”

Sy is deur een van die aanvallers beveel om die kluis uit te wys. “Hy het my aan my hare beetgekry en beveel om te lê. Toe die kluis leeggemaak is, het hy gevra waar die bakkie is. Ek het vir hom gesê dat die Isuzu voor staan. Hy het egter die sleutels in my gesig gedruk en gesê; This is Toyota keys. Ek het verduidelik dat die Toyota Land Cruizer agter staan.”

Die verdagtes het gevlug met ‘n onbepaalde bedrag kontant en drie vuurwapens. Die Cruiser is later 46km uit op die R540 gevind.

Die voertuig is gevind op die R540

Volgens Karin bly hulle al die afgelope drie jaar op die plaas en is dit die eerste keer dat so voorval plaasvind. Die egpaar vervaardig houtskool op die plaas. Hulle sou vandag na hulle vakansiehuis in Mosambiek vertrek het.

“Hulle was nie moorddadig nie. Ons is baie dankbaar dat ons nie beseer is nie, maar mens skrik jou dood as so iets gebeur. Jy bid heeltyd.”

Kapt. Alfred Moela, SAPS woordvoerder het die voorval bevestig. “Geen arrestasies is nog gemaak nie, maar die polisie is besig om alle moontlike leidrade op te volg. ‘n Saak van huisroof word ondersoek.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button