Plaaslike driemanskap het ‘n oog vir ‘n nismark
Die span van @Venture is uitgewys vir hul besigheidsvernuf by a prysuitdeling tydens 'n dinee wat by die Urban Yard in Riverside Junction, Sandton gehou was met Derek Watts van Carte Blanche as gasspreker vir die aand.
MBOMBELA – Die gedugte driemanskap van die plaaslike @Venture-onderneming wat korttermynversekering voorsien, is onlangs vir die tweede agtereenvolgende jaar as uitblinkers in hulle veld aangewys.
Die maatskappy wat nog net vier jaar in bedryf is, is ten spyte van laer kliëntegetalle as die res van hul nasionale mededingers, deur die internasionale versekeringsgroep, AIG as een van die top-sewe aangewys.
“Dit is ‘n groot eer om onder die topmaatskappye landswyd gereken te word vir uitmuntendheid, veral omdat die ander mededingers groot korporatiewe maatskappye is,” het Theo van Huyssteen, operasionele bestuurder en stigter van @Venture, oor die eer wat hom en sy span te beurt geval het, gesê.
Lees ook: Makelaar vier 50 jaar in versekering

Die prys is aan @Venture toegestaan vir die maatskappy se besigheidsbehoud, -groei en die gehalte van hulle produk, asook ‘n geskiedenis van lae eise.
“Ons is uit die bloute in kennis gestel dat ons op die kortlys is vir een van die grootsewe-toekennings en is toe na die galadinee genooi,” sê Van Huyssteen oor die pluimpie.
Volgens Van Huyssteen is hul wenresep ‘n kombinasie van jare se kennis van die versekeringsbedryf en ‘n oog vir ‘n nismark.
Lees ook: Tien wenke om beter vakansiefoto’s te neem
“Alhoewel daar soortgelyke produkte op die mark is, is wat ons uniek maak die feit dat ons nie net voorsiening maak vir viertrekvoertuie nie, maar ook vir eienaars van 2×4-voertuie met al hul buitelugspeelgoed daarby,” het bemarkingsbestuurder Bernie Kirsten gesê.
“Ons het dalk nie die grootste getal kliënte nie, maar die wat ons het, behou ons en ons maak seker dat hulle net die beste diens van @Venture ontvang,” het Van Huyssteen beklemtoon.
Vir hom en sy span is die doelwit vir 2018 om hulle mark uit te brei deur met plaaslike makelaars saam te werk en sodoende groei te stimuleer.
Lees ook: Skole se sukses verseker deur ouers wat hul sê sê
“Ons werk spesifiek met plaaslike makelaars in die dorp want ons glo aan ‘n beleid van ‘een hand was die ander’. Ons staan dus nie bakhand nie en werk saam met makelaars om ons en hulle besigheid te bevorder,” sê Kirsten.
Met 100%-groei vir 2017, kyk die span van @Venture net vorentoe en beoog hulle om hul resep verder te verfyn.
“Alhoewel ons nog net vier jaar aan die gang is, werk ons deurentyd daraan om net beter te doen in ons besigheid, maar belangrikste van alles, ook vir ons kliënte sodat ons ons plek in die mark kan volstaan,” het Van Huyssteen gesê.
