Plaaslike VLU-tak ryg die streekstoekennings in
Die VLU se Lebombovallei-tak is onlangs as die organisasie se streekwenners aangewys en lede het 'n string toekennings losgeslaan.
KOMATIPOORT – Die VLU Lebombovallei-tak het hul 15de verjaarsdag op 22 Maart gevier en tydens die geleentheid gehoor dat hulle streekswenners is.
Sunette Barnard, nuutverkose streeksvoorsitter van die Malieveld-streek, en uittredende voorsitter Mariette Joubert, het die tak meegedeel dat hulle met meer as 1 000 punte gewen het.
Lede verwerf punte vir hulle tak deur gereeld aan kompetisies (vir byvoorbeeld breiwerk, handvlyt, kuns, skryfwerk en fotografie) deel te neem.
LEES: VLU-dames van regoor streek vergader in Marloth
Daar is ook spesiale toekennings vir besonderse prestasies oorhandig. Lenie van Dyk is vir haar prestasies by die onlangse VLU-konferensie vereer, asook vir die voltooiing van die onlangse Cape Argus-fietswedren. Sy het besluit om die fietsren saam met haar dogter aan te pak in die jaar waarin sy 60 sou word.
Anne-Marie Pretorius het ‘n eerste plek behaal vir koekies wat sy gebak het en is aangewys as die beste tesourier in die streek. Sandra Hughes het ‘n derde plek behaal vir borduurmasjienwerk.
Maryke Fouché het 11 items ingeskryf en ‘n tweede plek vir ‘n collage en eerste plek vir fotografie behaal.
Jolene Caldeira het 12 items ingeskryf en derde plek vir ‘n foto met die tema “Mense in aksie”, ‘n tweede plek vir ‘n Mandala-kussing, eerste plek vir ‘n foto met tema “Ouer kind” en nog ‘n eerste plek vir ‘n blomme-rangskik-king behaal. Sy het ook die eerste plek in die streek met 862 punte behaal.
LEES: Melktert met ‘n storie gekies as beste in streek
Takvoorsitter Margit Maree het 15 artikels ingeskryf en het ‘n derde plek gekry vir ‘n hekelpensakkie en ‘n tweede plek vir handvlyt. Sy is aangewys as die persoon met die meeste artikels op streekvlak, asook die algehele wenner op streeks- en provinsiale vlak met die meeste punte behaal.
