Bekende besigheidsman sterk aan na vliegongeluk
Kerneels Kruger het eers by Mediclinic Neslpruit aangesterk, maar is per helikopter na Milpark Hospitaal vervoer om verdere behandeling te ontvang.

MBOMBELA – Die bekende plaaslike sakeman wat Donderdag by die Nelspruit Vliegveld in ‘n vliegongeluk was, se beserings is ernstiger as wat aanvanklik bevestig kon word.
Kerneels Kruger, die eienaar van Produkta Motors, was teen Maandagoggend nog in die hospitaal.
Sy vrou, Corné, het bevestig dat hy aan ‘n ventilator gekoppel was nadat hy ‘n operasie aan sy ruggraat ondergaan het.
Also read: BREAKING NEWS: CIT heist on Fidelity vehicle
Kruger se Cessna het Donderdagmiddag, kort nadat hy by die vliegveld opgestyg het, in ‘n nabygeleë veld geval.
Getuies sê die vliegtuig is verwoes. Kruger was alleen ten tyde van die ongeluk.

Hy is op die toneel deur ER24-paramedici behandel en na Mediclinic Nelspruit vervoer. ER24 se Greg Wilcox het gesê dat hy ‘n sny aan sy kop gehad het en, hoewel hulle vermoed het dat hy moontlik sy ruggraat kon beseer het, dit slegs met X-strale bepaal kon word.
Hierdie toetse het later die dag getoon dat Kruger sy C7T1-werwel sleg gebreek het.
Daar is besluit om hom na ‘n Gautengse hospitaal te vervoer. Hy het egter op pad asemnood ervaar en moes in Middelburg Hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem word.
Hy is die volgende dag, Vrydagoggend, per helikopter na Milpark Hospitaal geneem.
Corné het aan Laevelder bevestig dat die dokters tevrede was met haar man se vordering na die operasie.

“Ons almal is positief en ons wil graag ons vriende, familie en die publiek vir hul oorweldigende ondersteuning bedank,” het sy gesê. “Die dokters hou hom vir nou onder verdowing en hy is aan ‘n ventilator gekoppel.”
Sy het bygevoeg dat haar man dol was oor vlieg en hierdie stokperdjie al vir geruime tyd beoefen.
Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Dit word deur Burgerlugvaart ondersoek.
Lees ook: OPVOLG: Jong vlieënier se dood glo deur ‘n slaggat veroorsaak
