OPVOLG: Ongelukslagoffer sterk goed aan
Marlene Slabbert was 'n passasier in die ongeluk wat welbekende vlieënier, Riaan Foley se lewe geeis het.
MBOMBELA – Marlene Slabbert, die passasier in die ongeluk wat welbekende vlieënier, Riaan Foley se lewe geeis het, sterk goed aan.
Foley was omstreeks 13:00 saam met Slabbert vir middagete na Bloemhof onderweg toe hy ‘n slaggat getref en beheer oor sy voertuig verloor het. Dit het glo omgeslaan en Foley is deur die voorruit geslinger.
OPVOLG: Jong vlieënier se dood glo deur ‘n slaggat veroorsaak
Hy is op slag dood. Die impak het Slabbert, ‘n inwoner van Mbombela, se nek gebreek. Nadat sy na verskeie staatshospitale oorgeplaas is, is sy na Bloemfontein Mediclinic oorgeplaas waar sy Dinsdag ‘n operasie ondergaan het. Aldus haar pa Pieter, was die operasie ‘n sukses en dokters is dit eens dat haar oorlewing merkwaardig is.
Pieter vertel dat Slabbert gevoel in haar onderlyf begin terugkry, en dat sy self al haar arms kan beweeg. “Ons vat dit dag vir dag, en glo in haar volkome herstel,” het hy vertel.
Foley en Slabbert sou binnekort ‘n lewe saam in Mbombela begin, en het glo reeds ‘n saam ‘n huis gekoop. Plaaslike vlieënier en goeie vriend van Foley, Erick Nel, het intussen ‘n fonds gestig om die familie by te staan met kostes – Slabbert het geen mediesefonds nie.
‘n Bydra kan gemaak word deur candystick.co.za/c/riaan-foley/ te besoek.
