Ratels ontvang kleredrag.
Die Ratels-rugbyspelers het verlede Vrydagaand nie net hul nuwe rugbyklere ontvang nie, maar ook 'n kans gehad om met twee oud-Springbokke blad te skud.
Voor die rugbyseisoen ‘n aanvang neem is hierdie ‘n spesiale geleentheid waarna elke speler uitsien. Elkeen se kleredrag, wat formele drag en die volledige rugbyuitrusting insluit, word aan hulle oorhandig.
Wat hierdie een egter meer spesiaal gemaak het, was die teenwoordigheid van twee oud-Springbokspelers, ‘n pa-en-seunkombinasie, Moaner en Wikus van Heerden. Moaner het in 1951 vir die Bokke gespeel en sy seun Wikus was in die rugbykollig van 2003 tot 2010 toe hy onderskeidelik vir die Leeus, Blou Bulle en die Springbokke gespeel het.
Na al die formaliteite afgehandel is, het die Ratels saam met hierdie ikoniese manne gebraai en gekuier. Elke borg wat vanjaar se uitrusting moontlik gemaak het, het ook ‘n klein geraamde Ratelstruitjie met die borg se handelsnaam daarop ontvang.






