Gewapende rower steeds skoonveld
'n Gewapende man is steeds soek nadat hy Sondag 'n winkel in die White River Square-winkelsentrum geroof het.

WITRIVIER – Die man het tussen 13:00 en 14:00 die personeel aan diens met ‘n wapen gedreig, waarna hulle in die toilet agter in die winkel gaan skuiling soek het.
Hulle het hulle daar toegesluit en per selfoon hulp ontbied.
Lede van die SAPD en Hi-Tech Sekuriteit was vinnig op die toneel en het die winkel omsingel, maar die verdagte kon nie meer opgespoor word nie.
Volgens die winkelgroep, wat linne en huishoudelike ware verkoop se streeksbestuurder is haar personeel ongedeerd en was daar nie baie geld in die winkel nie aangesien dit ‘n stil sakedag was.
Die rower het sowat R2 000 gebuit.
Polisie en sekuriteitspersoneel het ná die tyd na die verdagte gesoek.
Enigiemand met inligting kan 082-455-6591 kontak.


