Hard newsLocal newsNews

Alex Jay vier sy eerste fees by Innibos

Radiolegende onthou begindae - saam met ander legendes.

Alex Jay onthou sy begindae in radio. Hy was 19 met ellelang hare en het as ‘n tegnikus by die destydse Radio Suid-Afrika (deesdae RSG) ingeval. Geharde joernaliste soos Max du Preez en Ruda Landman was op nuus.

“Hulle het ons nie juis ernstig opgeneem nie,” lag hy nou. Al wat bereid was om met hom te praat was die sportaanbieder, want hy het hom ook nie ernstig opgeneem nie.”

Later sou die einste sportaanbieder rolprente begin maak. Sy naam is Leon Schuster en Alex het saam met hom die premiere van sy eerste fliek bygewoon.

Die afgelope Innibos was dus ‘n reünie in die kleine: Schuster is as feeskunstenaar vereer vir sy bydrae tot die Afrikaanse kultuur, en Landman het self oë kom wys by Pen in my Hand.

Alex was ook in Mbombela vir die week, en het saam met sy medeaanbieder van die JacarandaFM-streeksprogram, Sascha van Gelder, vanaf die ateljee by Emnotweni uitgesaai.

Innibos 2018 was sy eerste fees ooit. Nie sy eerste Innibos of selfs sy eerste Afrikaanse kunstefees nie. Eerste. Fees. Ooit.

“Ek het net nog nooit daar uitgekom nie, nie eens Oppikoppi nie. Ek het altyd daardie tye gewerk, en die stasies waar ek voorheen was het nie regtig feeste gedek nie.”

Sedert hy in Februarie by JacarandaFM aangesluit het, het dit egter verander.

“Dit is uitstekend,” sê hy van Innibos. “Daar is so ‘n groot verskeidenheid. Die grootste verrassing vir my was die verskeidenheid by die stalletjies. Wow! En mense is so trots op hul werk. Die standaarde is hoog – hulle het nie hulle geld gemors nie.”

LEES MEER: Innibos rol met van SA se gunstelingkunstenaars

Alex en Sascha saai al sedert Februarie “saam” uit: sy uit Mbombela en hy uit Johannesburg. “Ons het een keer ontmoet voor ons begin het om saam uit te saai,” vertel sy.

“Ons het dadelik gekliek. Daar was die moontlikheid dat ons mekaar se tekens mis kon lees, maar ek weet wanneer hy ‘n grap maak.”

Dit klink asof hulle in dieselfde ateljee is wanneer hulle weeksdae JacarandaFM Regional tussen 12:00 en 16:00 na Mpumalanga en Limpopo uitsaai.

Alex het meer as 36 jaar se ervaring op die lug en is ook ‘n platejoggie, musikant, seremoniemeester en stemkunstenaar. Hy wou op ‘n stadium ‘n joernalis word, maar verbeur toe ‘n beurs. “Toe word ek ‘n rock ‘n roll-persoon. Dit is nogal pret.”

Sascha is al vir drie jaar by Jacaranda. Sy sê sy leer elke liewe dag iets nuuts by hom. Soos vir die stasie, is kontak met hulle plaaslike gehore van kardinale belang vir albei aanbieders.

“Ek weet dit klink vreemd om ‘n ou in Johannesburg te gebruik om plaaslike geur aan ‘n program te gee, maar jy kan nie een generiese produk vir gehore so wyd verspreid as Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng gee nie,” sê Alex.

“Hoekom moet ons altyd oor dieselfde casino praat? Praat ‘n bietjie oor Emnotweni.”

SIEN OOK: ‘n Fees ter viering van Suid-Afrikaners

“Ek hou daarvan dat ons die konneksie kan wees tussen verskillende klein dorpies,” voeg Sascha by.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button