Die VLU vou papierkrale as deel van landswye kompetisie
Die dames van die VLU se Malieveldstreek het verlede Dinsdag meer oor die maak van papierkrale geleer.
MBOMBELA – “Elke liewe vrou het kuns in haar, sy moet dit net kry.” So sê Riana van Schalkwyk by haar winkel, Nelspruit Craft Studio and Shop. Hier het die dames van die VLU Dinsdagoggend meer kom leer oor die kuns van papierkrale vou en om dan juwele daaruit te maak.

Volgens Annatjie Maré, vise-voorsitter van die Loerie-tak is hierdie papierkraaljuwele een van die nasionale VLU se kompetisie-stukke vir die jaar. “Ons word eers op takvlak beoordeel en dan kan jy verder deurdring tot streeks-, provinsiale of nasionale vlak,” verduidelik Maré.

Volgens die kompetisie se reëls moet elke vrou twee juwelierstukke van hulle keuse maak. Dié stukke mag nie meer as 10 persent ander krale bevat nie en mag op enige manier vasgemaak word. Die kompetisie eindig in Oktober.
LEES OOK: Die land se beste koeksisters by vanjaar se fees

Die Loeries het hierdie werkswinkel saam met Van Schalkwyk aangebied om dames van verskeie VLU-takke idees te gee oor hoe om kreatief met hulle juwele te raak.

“Hierdie jaar het die streek besluit dat elke tak verskillende klasse moet aanbied en ons het die voorreg om hierdie wonderlike klas vanoggend hier aan te bied,” sê Iris Kühn, voorsitter van die Loerie-tak. Volgens Van Schalkwyk is die doel van die projek om benodigdhede te gebruik wat jy reeds het en hulle te herwin. “Jy kan enige papier gebruik wat jy het en self ‘n skoenveter gebruik om jou hangertjie of ander stuk vas te maak.”

Elke dame wat die oggend bygewoon het, het ‘n pakkie van die Loerie-tak gekry met ekstra patrone en benodigdhede om die krale mee te kan vou, sowel as ‘n R50-geskenkbewys om by Nelspruit Craft Studio and Shop te spandeer.
LEES OOK: Bekamp mensehandel deur jou eie poppie te brei

