Local newsNews

‘n Bedrywige seisoen lê vir brandbestryders voor

Die bietjie reën wat sedert die begin van die brandseisoen in Junie geval het, en min reën in die vooruitsig, veroorsaak dat die gras en die grond uiters droog is.

MBOMBELA – Die hoogseisoen vir brande is hier. Met die kwik wat die week reeds tot in die hoë 30’s gestyg het en warm temperature weer vanaf Maandag verwag word, raak die kans op wegholveldbrande ook al hoe groter.

Lees: Cold, rainy weather soon to hit the Lowveld

Bestuurder van die Lowveld and Escarpement Fire Protection Association (Lefpa) André Scheepers, waarsku dat deeglike beplanning nou uiters noodsaaklik is, en dat beproefde strategieë in plek moet wees vir wanneer brande uitbreek.
Scheepers, wat sy lewe daaraan wy om brande in die Laeveld en Platorand tot ‘n minimum te beperk, sê dat hoewel brande onvermydelik is, hy effe onrustig is oor die vooruitsigte vir vanjaar se brandseisoen.

“Warm, droë en winderige toestande is reeds gunstig om brande aan te stook, en daar is nog baie water wat in die see moet loop voor die seisoen tot ‘n einde kom,” vertel hy. “Die bietjie reën wat sedert die begin van die brandseisoen in Junie geval het, en min reën in die vooruitsig, veroorsaak dat die gras en die grond uiters droog is,” sê hy.

Verkenningsvliegtuie, Huey’s, AT-802 Bombers en natuurlik die nuweling tot die span, die Black Hawk, asook almal wat vir bestryding verantwoordelik is, staan al van vroeg af gereed.
Hoewel nie te ernstig nie, was die span van Working on Fire reeds na talle brande ontbied, waaronder die Sabie- en Kaapsehoop-gebied. Die brande is egter binne ‘n paar uur geblus.

Lees ook: Krokodil van gewisse dood gered

“Met ‘n ietwat bo-gemiddelde reënval die afgelope somer, het die gras welig gegroei en grens die brandgevaarindeks reeds vroeg in die seisoen aan oranje, veral wanneer temperature soos Dinsdag 30 °C oorskry,” verduidelik Scheepers.
Die belangrike eienskap waaroor die gemeenskap nou moet beskik, is same-werking en ‘n goeie gebeurlikheidsplan wat tot die brandbestryders se welslae sal bydra.

Scheepers moedig die gemeenskap aan, veral dié wat in omliggende gebiede woon, om so spoedig moontlik voorbrande te maak. “Dit moes al eintlik voor 1 August afgehandel gewees het, maar kan nog toegelaat word mits die weer daarvoor gunstig is.”
Die brandseisoen sal na verwagting binnekort sy piek bereik, en behoort teen einde Oktober tot ‘n einde te kom. “Met tendense soos dié in die Kaap, die res van die land en uitlandig soos in Kalifornië, maak ons onsself reg vir ‘n interessante verloop van die brandseisoen,” sê Scheepers.

Dam levels in the province still on a downward trend

Die gemeenskap word dus aangemoedig om ekstra voorsorg te tref en ekstra versigtig te wees.
Die stasiebevelvoerder van Mbombela Brandweerdiens, Johan von Weidts, voeg by dat geen brande in dorpe toegelaat word nie. Hy verwys spesifiek na ‘n onlangse voorval waar ‘n vullishoop naby die stad vir dae lank gesmeul het. “Geen vullis mag in beboude gebiede gebrand word nie. Al bly jy in die buitewyke van die dorp, beveel ons ten sterkste aan dat vullis eerder weggery as verbrand word,” sê Von Weidts.

Hy voeg verder by dat indien voorbrande (met toestemming) gemaak word, die brandweer ook in kennis gestel moet word. Hy sê ook dat areas wat gebrand word, tot klein gedeeltes op ‘n slag beperk moet word om dit beheerbaar te hou.
Die brandweer se noodnommer is 013-753-3331.
“Indien ‘n brand ontstaan, kom daar soms talle oproepe deur. Jou oproep sal geantwoord word. Wees net geduldig,” sê Von weidts.

Lees ook: Vragtrein ontspoor onder raaiselagtige omstandighede

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button