Hond vergiftig in veiligheidskompleks
Die hond is Sondagaand in Heuwelsig Estate vergiftig.
Vir die Labuschagne’s was hulle hond Milo ‘n lid van die familie. “Hy het saam met die kinders grootgeword,” het die hartseer egpaar vertel nadat Milo Sondagaand vergiftig is.
Die Labuschagne’s het Januarie by Heuwelsig Estate in Sonheuwel ingetrek. Later het hulle ‘n hekkie tussen die voorste en agterste gedeelte van die erf opgerig sodat Milo net aan die agterkant van die erf kan bly.

Volgens die egpaar het hulle gereeld klagtes oor die hond se geblaf ontvang.
“Ander honde het in die straat op en af geloop en dis dan wanneer Milo begin blaf het,” het die Labuschagne’s verduidelik en vertel dat bure hulle selfs gebel het wanneer hulle met vakansie is.
Sondagaand toe die Labuschagne’s Milo roep om vir hom kos te gee, was dit reeds te laat.
LEES OOK: Great Dane killed in suspected poisoning
“Ons het hom Maandagoggend veearts toe geneem en hy het bevestig dat die hond wel vergiftig is. ‘n Mens dink jy bly in so ‘n veilige plek, maar ons vermoed dis die mense om ons wat sulke aaklige goed doen,” het hulle gesê.
Hi-Tech se operasionele bestuurder Callum MacPherson sê dat hulle op die toneel was en bevestig ook dat hulle verantwoordelik is vir die sekuriteit by die ingang van die kompleks.
“Daar is geen heinings geknip of beskadig nie. Daar is nie baie gevalle van honde vergiftiging in die gebied nie en ons monitor die geval,” het MacPherson gesê.
Die Labuschagne-egpaar het vertel dat die hond in ‘n gesonde toestand was. “Hy was ‘n op en wakker sterk hondjie,” het hulle gesê en bygevoeg dat hulle nou bang is vir die veiligheid van hul ander twee honde.
LEES OOK: Suspected dog poisoning in Hunter Street
“Die gif is ook baie gevaarlik en ons is bang dat ons kinders daarmee in aanraking kan kom,” het hulle afgesluit.
Heuwelsig Estate kon nie bereik word vir kommentaar nie.
