Kunskuier tussen keramiek en skilderye
Kuier-kuier kon besoekers die families beter leer ken en hulle uitsonderlike kuns indrink en geniet.

Mense het van heinde en verre gekom om die kunskuier te geniet wat deur die befaamde Bosch-familie, René Eloff en Wendy Malan by hul onderskeie ateljees aan die buitewyke van Witrivier aangebied is.
So kuier-kuier kon besoekers die families beter leer ken en hulle uitsonderlike kuns indrink en geniet.
By Anton en Hanlie kon ‘n mens jou vergaap aan sy ingewikkelde versierde muurpanele en potte, Hanlie se gesigte en figure en hul dogter Nina se handgemaakte porseleinjuweliersware.

By Esra Bosch se ateljee was dit moeilik om te kies tussen haar verskeidenheid bakke, borde, teëls, olielampe, deurknoppe en meer.

Hulle suster Andre Eva het gaste weer aan hul pa, Esias Bosch, se panele en sketse voorgestel.

By Eloff kon ‘n mens jou verlustig in haar skilderye gekenmerk deur lewendige kleur en energie.
‘n Besondere boek oor die werk van haar oorlede man, Zakkie, is ook steeds teen ‘n nominale prys by haar ateljee beskikbaar.

Navrae kan aan die kunstenaars gerig word: Esra Bosch by 082-823-7591, Anton Bosch by 083-456-3272, Hanlie Bosch by 082-321-4318 of René Eloff by 083-701-1528.
