Besighede ly onder padwerke in die stad
"Dae, weke en selfs maande het reeds verbygegaan en niks het gebeur nie."

MBOMBELA – Die herstelwerk op die Fredenheim-pad, berug daarvoor om lede van die gemeenskap se bloed te laat kook, is verlede week wéér gestaak.
Dit met ‘n spertyd van 16 Oktober wat wink. Die konstruksie op hierdie pad is vir die soveelste keer tot stilstand gebring weens beweerde wanbetaling. Werksaamhede staan glo vir meer as twee weke al stil en toegang tot die Valencia-industriële gebied is slegs deur Valenciastraat begaanbaar weens Fuchsiastraat wat Quo Vadisstraat, toegesit is. Die oostelike industriële gebied by die lisensiekantore is slegs via die R2296 en Suikerrietstraat bekombaar.
Verkeer vanaf Samora Machelrylaan kan Fredenheim slegs vanaf Kragbron en Timmerhoutstraat bereik. Intussen sit besigheidsbestuurders soos Willem Venter met hulle hande in hulle hare, met toegang tot hulle perseel wat tot ‘n minimum beperk word. “Ons beswaar is dat hierdie projek volgens ons inligting al in Augustus 2017 afgehandel moes gewees het. Wat frustrasievlakke beproef is die feit dat die kontrakteur vir ‘n paar dae werk en daar dan soms vir weke net mooi niks op die projek gebeur nie.
“Dit terwyl die publiek geweldig verontrief word tot ‘n skandalige vlak,” het Venter, die bestuurder van Masterturf wat in die hartjie van die gemors geleë is, gesê.
City of Mbombela, wat verantwoordelik is vir die kontrakteur se betaling, se Joseph Ngala sê dat een van twee betalings reeds aan die kontrakteur gemaak is, en dat hy nie bewus was van die werkers wat gestaak nie. Ngala het beloof dat die tweede betaling binnekort gemaak sal word, en het werkers aangemoedig om terug te keer werk toe. Dit blyk asof hulle gister weer begin werk het. Raadgewende ingenieur, Lammie Oosthuizen het gesê dat dit nie bekend is of die betaling gemaak is nie.
Venter is woedend en talle pleidooie aan Mbombela val glo op dowe ore. “Dae, weke en selfs maande het reeds verbygegaan en niks het gebeur nie. Dit wat wel gebeur, gebeur teen ‘n slakkepas,” het hy gesê en voeg by dat nie net die stof nie, maar toegang wat allewig beperk word, ‘n groot probleem is.
“Ons verkoop nuwe voorraad teen ‘n fraksie van die prys weens die hoeveelheid stof. Dit lyk tweedehands. Ons moes ‘n tweede skoonmaker in diens neem, op ons eie onkoste,” het hy gesê.
Volgens hom moes die projek reeds lankal afgehandel gewees het. “Dit is onaanvaarbaar dat die besighede aan die kortste ent moet trek, weens die onophoudelike kontruksiewerk,” sê hy.
Die projek, wat na beraming 75 % klaar is, se nuwe voltooidatum is nog nie bekend nie.
Join in a walk against slavery in Mbombela
