OPVOLG: Brand op Alkmaar onder bedwang gebring
'n Relatief goeie reënbui met 'n gemiddeld van 10 mm het egter in die guns van die brandbestryders getel, en het op sekere plekke waar die terrein ontoeganklik was, vermag wat die brandbestryders te voet, nie kon nie.

ALKMAAR – Onberekenbare skade is aan plantasies en grasvelde aangerig toe ‘n brand Dinsdagaand uitgebreek het.
Hoewel die oorsaak nie bekend is nie, was warm, droë en winderige toestande bevorderlik vir die wegholveldbrand wat vir byna ‘n dag lank gewoed het. Die brand het glo Dinsdagaand ontstaan en brandbestryders is teen eerstelig Woensdag na die toneel ontbied.
Blitsige reaksie, ‘n deeglike gebeurlikheidsplan en hulpbronne soos plaasdamme wat ‘n klipgooi van die brand af was, het die tog bemaklik. Die wind was egter nie in hulle guns nie, en helikopters, Bombers en ‘n verkenningsvliegtuig gekontrakteer aan Lowveld and Escarpment Fire Protection Association (Lefpa) het hulp verleen deur vrag na vrag water op ‘n goed gekoördineerde wyse, oor die brand te stort.
Teen laastelig Woensdag was die brand onder bedweng gebring. “Ons het na beraming 90 000 liter water per uur oor die vuur gegooi,” het die Lefpa se bestuurder, André Scheepers gesê.
Grondspanne het op die toneel agtergebly om seker te maak die brand vlam nie weer op nie.
‘n Relatief goeie reënbui met ‘n gemiddeld van 10 mm het egter in die guns van die brandbestryders getel, en het op sekere plekke waar die terrein ontoeganklik was, vermag wat die brandbestryders te voet, nie kon nie.

“Die oorsaak van die brand en die omvang van die skade is nog nie bekend nie,” het Scheepers gesê. Hy is dit eens dat die brandseisoen egter nog nie verby is nie.
“Totdat daar ‘n werklike goeie bui reën geval het, bly ons nog op hoëgereedheidgrondslag,” het hy gesê.
Dié brand was na beraming die provinsie se 239ste tydens die afgelope winterseisoen. “Dit is baie hoër as verlede jaar se 170,” het Working On Fire se provinsiale algemene bestuurder, Martin Bolton gesê.
Hy sê egter hy is nie verbaas nie. “Die droogte van die afgelope paar jaar het min plantegroei tot gevolg gehad en dus was daar min wat kon brand. Maar, die reën wat aan die begin van die jaar geval het, het plantmateriaal laat groei.
“Die FDI, of Fire Danger Index, het vanjaar as gevolg hiervan die hoogte ingeskiet,” het Bolton gesê.
