Kersvader soek kleinspan se briefies
Al wat jy moet doen is om 'n brief te skryf en Kersvader te vertel hoekom jy dié jaar ‘n geskenkie moet kry van hom. Mamma en Pappa is welkom om te help met die skryf van die briefies.

LYDENBURG – Ho-ho-ho! Ons roep hiermee al die soet kindertjies in die dorp!
Kersvader is oppad na Lydenburg al die pad van Noordpool af. Hy het die koerant gevra om te help dat alle goeie dogtertjies en seuntjies ‘n spesiale brief vir hom moet skryf om ‘n pragtige en unieke speelding vir Kersfees te ontvang.
Kersvader het gesê dat Lydenburg een van die dorpe is wat hy spesiaal gekies het as ‘n aflaai-punt gedurende die Kersseisoen. “My elwe het my vertel dat daar baie goeie dogters en seuns in die dorp is. Ek het besluit om hierdie klein helpers te beloon met van my eksklusiewe geskenke! ”
Alle soet meisies en seuns word dus genooi om ‘n brief aan hom te skryf om hul spesiale geskenk te ontvang. Die geskenke sal deur die skoorsteen van die koerant afgelewer word en aan ons klein lesers uitgedeel word.
Omdat Kersvader oor die hele wêreld reis, kan hy natuurlik briewe in enige taal lees.
Al wat jy moet doen is om ‘n brief te skryf en Kersvader te vertel hoekom jy dié jaar ‘n geskenkie moet kry van hom. Mamma en Pappa is welkom om te help met die skryf van die briefies. Onthou om hulle te vra om asseblief hulle kontaknommers in te sluit sodat die elwe hulle in die hande kan kry.
Alle briefies kan ingehandig word by die koerant se briewe-kersboks.
