Feesflerrie of Kultuurtier: Laat jou stem tel vir gunsteling fees
Stemlyne vir die 9de kykNET Fiëstas sluit binnekort en die publiek het tot 13 Januarie kans om hulle stem te laat tel.

Mbombela se eie Innnibos Laeveld Nasionale Kunstefees is weer benoem in die kategorie “Fees van die Jaar” vir die negende kykNET Fiëstas.
Sandra Jacobs, bemarkingsbestuurder van Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees was ingenome met die ondersteuning wat reeds ingekom het. “Laevelders is ons getrouste ondersteuners. Dis mos óns fees. Ons waardeer elke enkele stem en wil baie graag die beker huis toe bring!”
Sandra het wel beklemtoon dat die stemlyne hierdie Sondag sluit en het al Innibos se ondersteuners aangespoor om te gaan stem. “Dit sal jou slegs een minuut neem en ons sal dit baie waardeer,” verduidelik sy. Jy kan stem vir jou gunstelingfees op kykNet se webwerf. ![]()

Vanjaar se ses gewildste feesnominasies is einde 2018 bekend gemaak. Hierdie feeste is Innibos, US Woordfees, Suidoosterfees, KKNK, Vrystaat Kunstefees en Aardklop.
Die Fiëstas-paneel, wat uit 10 lede en ’n sameroeper bestaan, het bykans 230 debuutproduksies in 2018 by die ses vervaardigende feeste gesien.

Feeste wat vir “Fees van die Jaar” kwalifiseer, moet aan die kriteria voldoen:
• Feeste moet ’n nie-winsgewende organisie wees waarvan die bestuur verantwoordbaar is aan ’n direksie, komitee of ’n raad van trustees
• Slegs vervaardigende feeste wat die finansiële risiko loop om nuwe werk te skep, kan benoem word in die kategorie “Fees van die Jaar”
• Aanbiedings by hierdie feeste moet die meeste van die genres in die kunstebedryf verteenwoordig
• Daar moet op ’n deurlopende basis ook gekyk word na die verskil wat feeste in die kunstebedryf en die omliggende gemeenskap maak.
