Pelgrims en pioniers word onthou en vereer
Nasate van pioniers uitgenooi na 'n spesiale middagete waar hul ouers en grootouers onthou en vereer is.
Dit was ‘n vrolike weersiens vir baie, en ‘n leersame geleentheid vir nuwelinge op die dorp, toe die nageslagte van Hazyview se pioniers op Sondag 4 Augustus vir ‘n unieke geleentheid bymekaargekom het.
Dit was die inisiatief van die Fick-familie, eienaars van die Numbi Hotel en nou ook Little Pilgrims-boetiekhotel, en die geleentheid was die eerste verjaardagvieringe van laasgenoemde.
Willem en Edna Fick het tweede- en derdegeslag-nasate van dié pioniers uitgenooi na ‘n spesiale middagete in die Wagon Wheel Saloon-restaurant, waar hul ouers en grootouers onthou en vereer is.
“Hierdie pioniers was sakemanne of boere, maar het almal hul stempel op een of ander manier deeglik op die gemeenskap van Hazyview afgedruk,” het Willem verduidelik. “Daarom het ons besluit om elke geboutjie van die boetiekhotel na een van die families te vernoem.”
Nadat gaste op verfrissende verwel-komingsdrankies getrakteer is, het ‘n besigtigingstoer deur die geboue gevolg. Elke familie het die geleentheid gehad om voor ‘hul’ gebou vir foto’s te poseer, waarna die geselligheid na die restaurant verskuif het.
Tussen die verskillende gange van ‘n voortreflike middagmaal het ‘n verteenwoordiger van elke familie hier meer oor hulleself en die bydraes van hul familie vertel. Daarna het die Fick-familie ‘n aandenking, ‘n geraamde foto van die genoemde naamborde, aan elke familie oorhandig.




