Local newsNews

FOTO’S: Orné Engelbrecht veg vir ‘n tweede maal die kankerstryd

Sy ly tans aan akute limfoblastiese leukemie en haar gesin het dringend finansiële ondersteuning nodig.

MBOMBELA – Die 19-jarige Orné Engelbrecht se grootste droom is om te toer. Daarom sou sy vanjaar as au pair oorsee gaan werk het.

In Maart is sy egter vir ‘n tweede maal met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer en was haar droom aan skerwe.

Orné Engelbrecht op haar matriekafskeid verlede jaar.

Engelbrecht, wat haar hoërskoolloopbaan verlede jaar by Hoërskool Bergvlam voltooi het, is tans in die Netcare Pretoria-Oos Hospitaal. Hier ontvang sy ‘n spesiale tipe chemo, genaamd Blincyto, wat haar kwaadaardige kankerstamselle doodmaak sodat sy ‘n lewensnoodsaaklike beenmurgoorplanting kan ontvang. Haar ma, Christa Ries, en Attie Penton verduidelik dat Engelbrecht op negejarige ouderdom die eerste maal met dié kanker gediagnoseer is.

Toe die gesin in Desember saam met vakansie was, is daar opgemerk dat Engelbrecht se lyf maklik kneus en dat bloukolle vir weke sigbaar was.

Orné Engelbrecht saam met haar ma Christa Ries.

In Februarie het Engelbrecht van seer spiere begin kla, maar toe haar ma haar dokter toe neem, het hy dit aan spasmas toegeskryf. Daarna is sy na Mediclinic Nelspruit se ongevalle-afdeling geneem waar sy weer met erge spierspasmas gediagnoseer is.

LEES OOK: FOTO’S: Super Sean veg nog hard

Op 12 Maart was sy egter in soveel pyn dat haar ma haar terug dokter moes vat. Bloedtoetste het gewys dat daar ‘n moontlike opflikkering van die kanker mag wees.

Orné Engelbrecht het in Desember nog by die see baljaar.

Die volgende dag het sy ‘n plaaslike geneesheer gaan sien wat haar dadelik na die Netcare Pretoria-Oos Hospitaal verwys het. Hier is sy weer met leukemie gediagnoseer. Dit was baie moeilik vir Ries en Penton om haar hierdie naweek na die hospitaal terug te neem. “Sy wou nie teruggaan nie. Ek het ‘n baie positiewe kind, maar ek kon sien sy is besig om moed te verloor,” sê Ries. Die onkologie-afdeling by die hospitaal is tans besig met toetse op ‘n potensiële beenmurgskenker.

“En selfs wanneer sy die oorplanting kry, is daar ‘n kans dat haar liggaam dit kan verwerp. Die operasie is ook hoë risiko,” verduidelik Penton.

Orné Engelbrecht saam met haar ma Christa Ries en Attie Penton op die strand.

Intussen het die gesin al ‘n paar finansiële uitdagings gehad, aangesien hulle elke naweek vir Engelbrecht in Pretoria gaan besoek. Hulle moet al Engelbrecht se bloedtoetse self betaal en hul brandstofonkostes beloop ongeveer R10 000 per maand.

Engelbrecht se verblyf in die hospitaal is ook net tot einde Oktober goedgekeur. Indien enigeen ‘n bydrae wil maak, kan Penton geskakel word by 084-547-4391.

LEES OOK: #NelspruitEisteddfod40: KYK: Hoë en lae note by vokale afdeling

Orné Engelbrecht toe sy op negejarige ouderdom die eerste keer met kanker gediagnoseer is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button