Net een oogwink en twintig jaar vlieg verby
'n Twintigjaar-matriekreünie is nie net pret vir oudskoliere nie, maar ook vir die onderwysers wat hulle deur matriek moes lei.

‘n Handjievol van dié onnies het Saterdag by Hoërskool Bergvlam bymekaar gekom toe die 1999-matrikulante hul reunie gehou het.
Juffrou Liza Blaken het vertel dat haar eie dogter ook deel van dié matriekgroep was, maar dat sy tans in Nieu-Seeland woon en dus nie die reünie kon bywoon nie.
“Dit is baie spesiaal vir my omdat dit van haar maats was. Ek moet wel erken dat ek nie almal van hulle kan onthou nie.”
Blaken het vir die graadgroep rekenaarwetenskappe, destyds tik, aangebied en werk tans as vakadviseur by die Ehlanzeni onderwysdepartement.
LEES OOK: One dead in horrific accident between a truck and bakkie
“Toe hulle sê 20 jaar, toe voel ek oud. ‘n Mens kan nie glo dis al so lank nie,” bieg juffrou Elza Vorster, wat destyds vir die matrikulante Afrikaans gegee het en nou by Curro Nelspruit skoolhou.
Haar mede Afrikaans-onnie, Retha Smit, het haar sentiment gedeel. “Maar as ek so na hulle kyk, het hulle darem mooi grootgeword en hulle praat darem suiwer Afrikaans, so ek het my werk gedoen.” Sy bied tans dié vak by Hoërskool Nelspruit aan.

Die groep se gasvryheidstudie-onnie, Karen Britz, wat steeds dié vak by die skool aanbied, het ook by die feestelikhede aangesluit. “Om eerlik te wees, kan ek nie glo dis so lank nie. Dit voel soos gister.”
Juffrou Zelda Verster, wat rekeningkunde en besigheidstudies aan die groep gegee het, doen afloswerk by Nellie Miere.
“Dit is die ergste, om te sien dat van die kinders vir wie ek skoolgehou het, nou al hul eie kinders skool toe bring.” Die oudskoliere het hul onnies met stywe drukkies gegroet en met ‘n glasie wyn oor die ou dae gesels.
ALSO READ: Die lang arm van die wet haal motor inbraak sindikaat in
