Roelf neem Macadamia op wandeling van herinnering
Dit was voorwaar ’n gesellige samesyn, met die bejaardes wat lekker gesels het oor Suid-Afrikaanse soetighede.

MBOMBELA – Die welkome reëns Donderdagoggend kon nie ’n demper plaas op die opgewondenheid by die Macadamiasorgsentrum nie. Die bejaardes by die sentrum het die beste van die bewolkte weer gemaak en opgewonde gewag vir Radio Laeveldomroeper Roelf van Jaarsveld se besoek.
Die geleentheid se tema was “Van toeka se tyd” en inwoners is aangemoedig om antieke items te bring en ook selfs ’n ou storie of twee te deel.
Van Jaarsveld is bekend vir sy diverse loopbaan, wat strek van radio en rolprente na televisie en weer terug na radio. Hy het verrigtinge geopen met ’n skriflesing uit Psalm 51 en ’n gebed voordat hy die gehoor vermaak het met staaltjies uit sy jare as spoorwegwerknemer.

LEES OOK: Ken die welstand afrigter van die Phakisa Pumas
Die senior burgers het geskater van die lag toe hy vertel van sy verwagting om in die Kaap te werk, en hoe hy tot sy grootste konsternasie besef dat hy in Ermelo gebaseer sou wees.
In daardie dae is werknemers by die spoorweg gehuisves in houthutte en hy het vertel hoe koud dit was gedurende die strawwe wintertye.

Dit was voorwaar ’n gesellige samesyn, met die bejaardes wat lekker gesels het oor Suid-Afrikaanse soetighede. Die gaste het ingesluit Bets Hoogkamer, die sentrum se oudste inwoner op die ryp ouderdom van 92 jaar, asook Pat Pretorius, oftewel Patricia Molly Walkden-Pretorius, ’n bekwame tennisspeler op haar dag.
LEES OOK: Toegewyde meisieskrieketspeler is as’t ware ‘n roos tussen die dorings

Van Jaarsveld het afgesluit met ‘n paar Bob Hope-grappe waarvan die snaaksste was: “Jy word oud as die kersies baie meer as die koek kos.”
