Katoenverbouing ondervind herlewing in die Onderberg
Na die afwesigheid van byna dertig jaar word daar weer aandag gegee aan die verbouing van katoen in die Onderbergstreek.
Reeds so vroeg as 1923 was daar al ‘n behoefte bepaal om katoen in die streek die verwerk. Met die bou van die eerste hoofpad in die twintiger jare om die Onderberg met die res van die land te verbind, het die regering ook besluit om ‘n katoenpluismeel hier te vestig. Drie plase noord van die ou Lebombo syhalte op die Oosterlyn is vir die projek opsy gesit.
In 1974 het die wêreldvraag na katoen gestyg en in 1975 is nog ‘n katoen pluismeul in Hectorspruit opgerig. Binne twaalf jaar is die projek egter gesluit en die meul na Settlers op die Springbokvlakte geskuif waar dit toe die hart van die land se katoenbedryf geword het.

Intussen het die kleinboere van Tonga, Mangweni, Khombaso en Mananga weer begin katoen plant. Met die hulp van Agronet Landboudienste in Malalane se Snyman Janse van Rensburg en Bongani Nkosi, word ‘n vestigingspakket aan hierdie boere gebied.
Dit sluit in saad, chemiese bolwurmbeheer, asook maskers en handskoene om aan die nodige veiligheidsvereistes te voldoen. Hierby is ‘n doelgerigte, saamgestelde geïllustreerde landbougids gemik op die bedryf van kleiner skaal boerderye, in Engels en Siswati.

LEES OOK: More Croc River water for Moz
Agronet, in samewerking met Katoen SA, bied ook opleiding wat alle aspekte van katoenboerdery dek – van die plantproses, siektebeheer en voorsorgmaatreëls, oes en herwinning van leë gifstofbottels.
Janse van Rensburg bevestig dat die klimaat in die Onderberg ideaal vir katoen is. Dit word op droëland geplant en hier is dit nie nodig om te besproei nie.

Die plantseisoen begin sodra die eerste reën geval het. Dit kan wees tussen middel Oktober tot middel Desember. Die katoen neem ses maande om volwassenheid te bereik.
Tans is die oesproses nog arbeidsintensief en word die katoen met die hand gepluk om die beste gehalte te verseker.
In die Onderberg is daar tans sowat 1 300 boere met tussen twee en 10 hektaar elk. Die totale hoeveelheid onder verbouing is 3 200 hektaar. Droëland lewer tussen 1 000 en 2 500 kg per hektaar.

Die boere hier lewer tans hulle katoen aan Loskop se pluismeule in Groblersdal en Makatini se pluismeule naby Pongola.
Volgens Janse van Rensburg is daar reeds sprake van kommersiële boere in die omgewing wat ook gedeeltelik na katoen toe wil oorslaan.
Die prys van katoen het die afgelope jaar goed geklim, van R2 na R9 per kilogram, wat dit gewis ‘n kommoditeit maak om te oorweeg in die nabye toekoms.
LEES OOK: Dans tot ounag in Komati
