Local newsNews

Nuwe N4 wisselaar by Karino gaan verkeersdruk verlig

Die bouwerk aan die nuwe wisselaar op die N4 by Karino is gereed om te begin.

Motoriste wat daagliks heen en weer tussen Mbombela en Karino/KaNyamazane ry se nagmerrie met opeenhopende verkeer en verkeersknope by die Karino-afdraai, gaan verlig word met die bou van ‘n nuwe kruising.

Tot nou toe was die Karino-aansluiting met die N4 ‘n gewone T-aansluiting.

Verkeersprobleme het vererger toe die N4, wat al die jare deur die stad gevloei het, in 2010/11 met die bou van die N4-ringroete om die stad herlei is.
Die verkeers-vloei het destyds skerp toegeneem omdat verkeer op die N4 ook nou by dieselfde kruising verby ry.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die Mpumalanga se department van veiligheid, sê daar is reeds jare ‘n groot behoefte om ‘n nuwe aansluiting te bou.

“Een wat nie net die enorme verkeersvloei gaan verlig nie, maar ook baie veiliger is vir motoriste wat die kruising daagliks moet trotseer.”

LEES OOK: ‘n Nuwe, sierlike sport binnekort in die Laeveld

Die afgelope drie jaar is provinsiale verkeersbeamptes daagliks by die kruising ontplooi om die oggend- en middagverkeer te beheer.
Mmusi sê een van hul grootste probleme is motoriste wat ongeduldig raak en kanse vat om vinnig oor die kruising te probeer kom.
Dit is egter buite spitstye en oor naweke wat daar steeds probleme ondervind word.

Omdat die kruising so gevaarlik is, was daar al verskeie botsings. Sedert Augustus verlede jaar was daar minstens vyf ernstige ongelukke waarin ten minste 11 mense kritiek beseer is.

LEES OOK : Sade van genade

Trans African Concessions (TRAC) het aangekondig hulle bou die nuwe wisselaar ten bedrae van meer as R390 miljoen.
Daar is reeds vroeër vanjaar met opmeting en die grondwerke begin. Dit is nou grootliks voltooi en daar gaan nou met die twee jaar lange bouprojek begin word, sê Solange Soares Nicholson, woordvoerder van TRAC.

Sy sê die bouprojek behels onder meer dat ‘n nuwe brug met op- en afritte gebou word.

“Na die voltooiing van die wisselaar sal die daaglikse verkeer van en na die stad geskei wees van die N4 se deurverkeer.”

Die totale lengte van die verbouiings strek oor vier kilometer.

Soares Nicholson sê plaaslike arbeid sal gebruik word. Daar sal ook terselfdertyd verskeie vaardigheidsprojekte in onder meer boukonstruksie aangebied word.

“Motoriste sal intussen steeds versigtig moet wees, want verskeie verleggings sal gebou word om die verkeer tydens die projek te herlei.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button