Gemeenskap verloor geliefde staatmaker
Hy was baie lief vir sy plaas, om te boer en sommer net buite te wees.

Die Hazyview gemeenskap het die afgelope naweek een van sy staatmaker-lede en ‘n gewilde boer verloor.
Ignatius Christiaan van Staden, beter bekend as Natie, het Saterdag tydens die vieringe van sy 59ste verjaardag ‘n hart-aanval gekry en is kort daarna oorlede.
Hy en sy vrou Charmaine sou ook op 22 Oktober die 31ste herdenking van hul troudag vier.
Natie laat sy vrou en twee dogters, Landi Botha en Chantelle van Staden, en skoonseun, Adam Botha, agter. Sy geliefde en enigste seun Gerhard is verlede jaar op 24 Maart ook aan ‘n hartaanval oorlede, ‘n slag wat die hele gesin, maar veral vir Natie, gebroke gelaat het.
Gerhard het saam met hom geboer en saam het hulle die Laeveld Agrochem onder-neming op die plaas op- en uitgebou. Natie het dit as ‘n baie groot voorreg beskou om só saam met sy seun te kon werk.
LEES OOK: ‘n Tuiste vir afvlerkmense by nuwe Soli Deo Gloria sorgsentrum
Natie was altesame 36 jaar in Hazyview en in die gemeenskap betrokke. Hy het as klein boer begin en later by Laeveld Agrochem aangesluit, vir wie hy die af-gelope 26 jaar as ‘n landbou- chemiese verteenwoordiger gewerk het.
Hy was baie lief vir sy plaas, om te boer en sommer net buite te wees. Natie het met makadamia-neute geboer.
Hy was net so lief vir die Hazyview/Kiepersol-gemeenskap en het dit baie geniet om almal bymekaar te kry om ‘n vleisie te braai of ‘n boeredag by sy gunsteling plek op die plaas, Natie se Rivier, te hou. Met sy groot liefde vir die bosveld het hy ook graag tyd saam met sy gesin en vriende op Grietjie in die Balule Reservaat spandeer.
Sy ander groot liefde was sy diere, waarvan Kaptein, die jack russell wat aan Gerhard behoort en hy oorgeneem het, die gunsteling was. Dié het hy nooit onder sy oë laat gaan nie.
Natie en Charmaine het juis Saterdag sy 59ste verjaarsdag by Narina Lion Sands, een van hul gunsteling kuierplekke, gaan vier.
Natie het daar pyn op sy bors ervaar en is met die hulp van die personeel na die dokterspreekkamers op Skukuza geneem. Daar is hy gestabiliseer en het Landi by hom en Charmaine aangesluit. Kort na Landi se aankoms het hy ‘n groot hartaanval gekry.

LEES OOK: Toekomstige leiers gebrei
Daar was ongelukkig geen helikopter-nooddienste in Mpumalanga beskikbaar nie en ‘n ambulans is van Mbombela af ontbied. Dié was egter net te laat en Natie is oorlede.
“Hy het altyd ongelooflik hard gewerk en sy familie goed versorg, en hulle nou ook met net die beste agtergelaat,” sê sy dogters.
Daar word vandag (Donderdag) om 14:00 vir hom ‘n roudiens op die plaas gehou.
