Gewone kinderlewe wink vir klein babbelbekkie
Lee-Ann sal voor Kersfees al sonder die gewas op haar voorkoppie foto's kan neem, en sonder om haar oor haar voorkoms te bekommer, in Januarie graad RR kan begin.

WITRIVIER – Dit was ‘n lang dag by die hospitaal verlede Donderdag, maar klein Lee-Ann Botha (4) se operasie was ‘n groot sukses.
Laevelder het vroeër berig oor die hemangiome (bloedvatgewasse) waarmee sy gebore is. Die een op haar voorkop was veral opvallend.
Haar gesin het ‘n pleidooi gerig om hulp om dit te laat verwyder en die gemeenskap het saamgestaan en bykans R35 000 ingesamel.
LEES MEER: Dogtertjie met hartjie vol omgee benodig operasie om meer normale kinderlewe te hê
Die twee gewasse op haar gesiggie en ruggie is toe suksesvol verwyder.
Die sprankelende babbelbekkie, Annie, soos haar mamma haar noem, het sommer met die intrapslag in die hospitaal met die verpleegsters maats gemaak.
“Met ‘n vriendelike gesiggie en ‘n ‘tatta, Mamma’ vat hulle haar die teater in. (Ek) kon toe nie langer (my) trane keer nie. Soos almal weet is dit die langste en stresvolste wag ooit.”
Alles het egter goed afgeloop, selfs beter as wat die dokter verwag het. Die letsel wat op haar koppie sal agterbly is baie minder opvallend as die gewas.
Ma Jennifer en pa Wessel is werklik dankbaar dat mense van regoor die land bygedra het om die operasie moontlik te maak.
“Jy verstaan nie, dit is soos ‘n berg van my skouers af,” sê Jennifer.
Alles het afgeloop met meer glimlagte as trane.
SIEN OOK: Hazyview Gemeenskap verloor geliefde staatmaker
