Steiltes kruis bly fokuspunt vir gemeenskap
Mense skiet soms na die bottels en dit beteken natuurlik dat die gloeilampe uitblaas en weer vervang moet word.

MBOMBELA – Die ikoniese kruis wat afkyk op die stad vanaf die hoogste geografiese punt in Mbombela, se ligte het uitgedoof, en inwoners was bekommerd toe hulle dit nie meer sien brand nie.
Sosiale media-blaaie is oorval met kommentaar van plaaslike inwoners vir wie die kruis iets beteken. Baie mense wou ook weet wie verantwoordelik is vir die instandhouding van die kruis. Chris Strydom, groepbestuurder van Canary Walk, vertel dat die vervanging van die gloeilampe in die kruis vir ‘n geruime tyd al die verantwoordelikheid van Canary Walk Mall is.
“Ons almal is baie opgewonde oor hierdie kruis, want dit verteenwoordig Christendom en die Here. As jy so ‘n kruis sien, spreek dit tot iets diep binne in jou.
LEES OOK: Bergvlam geografie-leerders besoek Bourke’s Luck
“Vir my beteken dit dat die Here aan die kruis gesterwe het. Ek ervaar vrede as ek die kruis sien,” sê hy. Strydom sê niemand praat oor die kruis wanneer die ligte wel brand nie, maar sodra dit donker is, begin mense praat.

“Dis omdat hulle daarvan hou, dit beteken vir hulle iets. Hulle wíl hierdie kruis sien brand, hy moet lig gee. Dis die rede waarom ons daardie kruis die heeltyd laat brand en die verantwoordelikheid aanvaar vir die kruis se instandhouding.”
‘n Interessante aspek van die kruis is dat die gloeilampe in vrugteflesse gehuisves word. Dit hou ook sekere nadele in, omdat mense soms na die bottels skiet. Dit beteken natuurlik dat die gloeilampe uitblaas en weer vervang moet word. Strydom vertel dat die vervanging van die gloeilampe ‘n moeilike taak is wat vereis dat ‘n hyskraan gebruik moet word.
LEES OOK: Barberton’s S’busiso Nkosi replaces Cheslin Kolbe in Springbok team
Op Laevelder se vraag oor hoe hulle weet die ligte vervang moet word, sê Strydom: “Ons luister as mense daaroor praat en kry dan ‘n elektrisiën om dit te vervang.”
Vir Strydom is die instandhouding ‘n gemeenskapsprojek waar Canary Walk Mall baat uit die wonder wat die gloeiende kruis skep.
“Die Bybel sê ook dat die een hand nie moet weet wat die ander hand doen nie. Ons doen dit vir die gemeenskap en ek dink Nelspruiters waardeer dit dat die kruis se ligte brand.”
