Local newsNews

Albé vier dekade van tweede lewe

Tien jaar gelede, op 13 Oktober, het Albé Gryvenstein (17) se ma, Natascha, vir hom een van haar niere geskenk, nadat hy as klein seuntjie nierversaking opgedoen het. 

“Ek is so dankbaar vir die tweede kans op lewe wat ek gekry het, ek het eintlik nie woorde om dit te beskryf nie.”

“Min mense kan sê dat hulle hul skenkers goed ken, en ek was so bevoorreg dat my eie ma vir my nuwe lewe, ‘n tweede lewe, geskenk het.”

Dit is duidelik dat die nieroorplanting hom verander het. “Ek is ‘n ander mens, ek is positief verander.”
Albé straal van dankbaarheid, veral teenoor sy ouers, Albert en Natascha.

LEES OOK: Bossies Community Justice vier 10 jaar

“Ek het geleer dat ‘n mens die lewe se hindernisse kan oorkom, veral met die regte mense aan jou sy. In my geval is dit my ouers en ek kan nie genoeg dankie sê nie.”

Voor die oorplanting was Albé, wat hierdie jaar ‘n matrikulant by Hoërskool Nelspruit is, ‘n maer en tengerige kind. Sy ma vertel egter dat hulle hom nooit spesiale behandeling gegee het nie. “Ons was net so streng met hom as met sy sussie.”

Dit blyk ‘n wenresep te gewees het, want Albé, ‘n self-erkende ekstrovert, is vandag ‘n uitblinker in skool. Op die vraag of hy senuagtig is oor die komende eindeksamen, het hy heel ontspanne geantwoord dat hy voorbereid is.

“Ek was meer bekommerd oor die rekordeksamen, maar nou voel ek dat ek die werk ken en verstaan.”
Albé kan die dag van die operasie helder onthou.

“Ek was baie bang voor die tyd. Ek onthou net voor ek by die hysbak ingestoot is het ek nog vir my ouers geglimlag, maar die oomblik toe die hysbakdeure toegaan, het ek begin huil.”

Albert onthou hoe sy seuntjie so twee of drie dae na die oorplanting seker tien minute gevat het om 20 meter te stap. “Maar hy was toe al ‘n vasberade kind, en het deurgedruk. Albé ken nie van tou opgooi nie.”

Vandag mag Albé nie aan kontaksport deelneem nie, maar vertel dat hy baie lief is vir krieket. “Ek moet net ‘n lyfskerm dra wanneer ek speel.”

Ten spyte van sy ondeunde glimlag is daar ‘n ernstige sy aan Albé. “Ek wil eendag in versekering gaan en hopelik sakebestuur gaan studeer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Lande Willemse

Landé Willemse is a multiple-award-winning journalist and editor with more than two decades of experience across print, digital, and broadcast media. Her work, which includes photography, spans investigative reporting, sport, agriculture, tourism, political and community news, with bylines across several respected South African publications.
Back to top button