Boks vir boervrou
Plaaslike "engele" maak hul harte oop vir vrouens in droogte geteisterde dele van ons land

MALALANE – Daar is verlede week weer eens bewys hoeveel die Onderberg omgee. Nie net vir die gemeenskap nie, maar vir die hele land. ‘n Facebook-groep is gestig deur Juanita Loubser van Wellington waarin sy Suid-Afrikaners versoek om saam te staan en ‘n boks te maak vir die vroue in die droë geteisterde dele van ons land.
LEES OOK:Foundation-made-history
Items soos eetgoed, wasmiddels, koffie (cappuccino-sticks) kondensmelk, badkameritems, ‘n tydskrif en nie-bederfbare lekkers was op die lysie. Daar was ook voorgestel dat mense ‘n mooi serp, ‘n spesiale waslap of mooi afdrooglappe, ‘n nota met bemoedigende woorde, ‘n bol wol en hekelpen, ‘n dagboekie met bemoedigende woorde, blokkiesraaiselboek of dalk ‘n inkleurboek vir volwassenes met ‘n pak goeie potlode en as daar plek is, iets vir haar man ook, stuur.

Leonie Horn van Malalane het aan die werk gespring. Die idee was om 10 bokse af te stuur Kaap toe. Sy het pas begin met die projek toe klim ‘n ander engel van die dorp, Dorie Wahlstrand aan boord en reël deur haar werkgewer, Time Freight Malalane dat hul nie net al hierdie bokse verniet sal vervoer nie, maar ook ‘n subkontrakteur sal kry om die kosbare vrag van hulle depot in die Kaap tot in die Paarl te neem. Verlede week is daar 28 bokse gelaai en Kaap toe geneem. Dit bly ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons as ‘n land kan saamstaan.

