‘n Paar klieks en voilà – jy’s gerat vir ‘n digitale fiësta
Splinternuwe sowel as produksies uit die argiefskatkis is deel van Innibos DIGITAAL.

“Ons is veral baie opgewonde oor die digitale debuut van die tragikomedie Leengoed, met Tobie Cronjé en Wynand van Vollenstee – en dit is vir seker een wat jy nie moet misloop nie!” het Sandra Jacobs, bemarkingsbestuurder van Innibos Nasionale Kunstefees, vertel.
“As musiek jou voorkeur is, is daar drie hoofverhoogkonserte waarvan jy kan kies. Die opnames van die 2019 JacarandaFM-konsert, die 2019 kykNet-Verjaardagkonsert en 2014 se Saterdagaandkonsert, is nuut verpak as kuberkonserte van die boonste rakke. En jy hoef nie eens jou eie kampstoel saam te sleep nie!”
Ander produksies sluit in Stef Bos – Bos innie Bos, Crooners met Jannie Moolman en Kevin Leo, Die Pomporrelkonsert met Johnny Klein, Rasende Ryme met Elsabé Daneel en Wilken Calitz, en vir die kleingoed is daar Felias en Pokkel met Jakkie Louw, en Liewe Heksie.
Die volledige program is beskikbaar op innibos.co.za.

LEES OOK: Terug skool toe vir Hoërskool Nelspruit matrieks
Hoe werk Innibos DIGITAAL?
Innibos het met Coleske Artists, die klank- en beligtingsreus MGG, klankingenieur Murray Lubbe en Computicket saamgespan om die digitale fees moontlik te maak.
“Talle kunstenaars kan nie tydens die inperking optree nie en hierdie is ‘n manier vir hulle om in ‘n baie moeilike tyd ‘n inkomste te verdien,” sê Jacobs. Meer as 20 produksies is vooraf opgeneem en geredigeer en sal vanaf 26 Junie om 18:00 gestroom kan word.

Só maak ‘n mens
• Jy koop ‘n kaartjie aanlyn by Computicket.
• Kaartjies is reeds van 15 Junie aanlyn op Computicket beskikbaar.
• Alle Innibos-vertonings open 26 Junie om 18:00.
• Onthou: Vanaf hierdie datum en tyd (26 Junie om 18:00) het jy 72 uur om daarna te kyk.
• Indien jy ‘n kaartjie na 26 Junie om 18:00 koop, het jy 72 uur om daarna te kyk vanaf die tyd wat jy die kaartjie koop.
• Alle Innibos-vertonings bly op die rak tot 31 Desember. Jy kan dus enige tyd ná 26 Junie nog kaartjies koop.
Klop aan by Computicket om te kyk
Vanaf 26 Junie, wanneer die feesproduksies aanlyn beskikbaar is, gaan jy só te werk om jou vertoning te geniet:
• Gaan na die Computicket-webtuiste en kliek op “Log in”.
• Gebruik dieselfde e-posadres en wagwoord van jou rekening by Computicket. As jy nog nie voorheen kaartjies gekoop het nie, kan jy baie maklik en vinnig registreer met jou e-posadres en ‘n wagwoord van jou keuse.
• Kliek op “My Transactions” en die vertoning/s wat jy gekoop het, word vertoon.
• Kliek op die “play”-ikoon op die prentjie. Sit terug en geniet die vertoning.
Maak seker dat jy die oorspronklike e-posadres gebruik waarmee jy die eerste keer by Computicket geregistreer het.
“Jy koop net een kaartjie en dan kan die hele familie saam met jou daarna kyk. Sien julle… in die sitkamer!” sluit Jacobs af.
Innibos stel nuwe feesdatums bekend

As daar nou een ding is wat die inperkingstyd en die Covid-19-pandemie vir die Innibos-span geleer het, is dit dat verandering die enigste konstante is!
“Daar word nog gewag vir wanneer die amptelike skoolkwartale in die Staatskoerant gepubliseer word, maar volgens alle aanduidings sluit die skole nou eers op 15 Desember,” het die Tjirp-nuusbrief vertel.
“Die feesdatums vir die Desember Innibos-fees skuif dus nou aan na 16 tot 19 Desember.”
Innibos Nasionale Kunstefees dra grootliks by tot die plaaslike ekonomie en dus word daar hard gestoei om dinge aan die gang te hou. Intussen, wees op dieuitkyk vir Innibos DIGITAAL, wat op 26 Junie geloods word.
