Hongersnood neem toe in Mbombela
Organisasies wat kospakkies aan behoeftiges in die omgewing voorsien is dit eens dat die nood daagliks styg en dat dit nie altyd moontlik is om by te bly nie.

Ds. Nati Stander van die NG Kerk in Witrivier sê hoewel die kerk nog heelwat skenkings ontvang, het die getalle van mense wat afhanklik van kospakkies is baie vermeerder.
“Ons gemeente het die afgelope 12 weke nagenoeg R400 000 se noodverligting in die gemeenskap teruggeploeg. Ons voorsien nou kos aan byna 2 000 mense.
“Noudat ons vlak drie van die grendeltydperk bereik het, kan mense self hul kos by die gemeentesentrum kom haal,” sê Stander.
Dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa sê die behoefte aan voedselhulp by volwassenes sowel as kinders het die afgelope paar weke toegeneem.
“Ons verwag dat dit in die toekoms selfs nog meer sal toeneem, omdat baie mense hulle werk verloor het. Ons sukkel om in al die behoeftes te voorsien omdat die skenkings wat ons ontvang merkbaar afgeneem het. Ons is veral bekommerd oor die gebrek aan kos vir babas en hoë-protein-kos soos blikkies vis, wat veral goed is vir bejaardes en jong kinders,” sê hy.
Die skenkingsprojek wat deur Mdluli Lodge in die Nasionale Krugerwildtuin van stapel gestuur is om omliggende gemeenskappe te help, ervaar ook ‘n styging in die hoeveelheid persone wat hulp nodig het.
“Die nood word definitief groter. Baie mense ly honger. Die staat vat lank om werkloosheidseise te betaal en dit het ‘n groot invloed op mense. Ons het nog voorraad vir een aflewering en sal dan met die bystand van borge verdere pogings aanwend om mense te help,” sê Chris Schalkwyk, uitvoerende bestuurder en direkteur van Mdluli Lodge.
LEES OOK: ‘n Paar klieks en voilà – jy’s gerat vir ‘n digitale fiësta
Volgens Leigh Green, bemarkings-bestuurder van HL Hall and Sons, is daar al hoe meer versoeke vir hulp van mense wat hulle werk verloor het of nog nie kon terugkeer werk toe nie.
“Wat dinge nog erger maak is dat voedingskemas by skole nog nie ‘n baie groot verskil kan maak nie, omdat die meeste kinders nog by die huis is. Ons personeel dra steeds by tot ons fonds, maar dit is nie naastenby genoeg om alles te doen wat ons wil doen nie. Ons het nog skenkings nodig om te kan voortgaan en elke bietjie help,” sê sy.
TJ Marais van die Mpumalanga Leadership Foundation stem saam dat die behoefte aan hulp al hoe groter word.
“Ons het 60 kospakkies ‘n week nodig. Ons ontvang steeds heelwat skenkings, maar dit is net nie genoeg nie. Ons wil graag hoë-gehalte kospakkies voorsien wat genoeg is vir ‘n gesin vir twee weke. Ons vertrou egter dat ons, ons projek sal kan volhou,” sê hy.
Morné Green van Community Can Challenge sê dat hulle skenkings ook afgeneem het. “Veral dié wat in ons winkelwaentjies by supermarkte geplaas word het met omtrent 80 persent afgeneem. In hierdie stadium help ons tussen
1 000 en 1 400 mense ‘n week, terwyl dié wat navraag doen omtrent 2 500 per week is.
“Maar die skenkings wat ons kry is steeds wonderlik. Mense en maatskappye moet net saamstaan en ons sal kan aanhou om ‘n verskil te maak.”
Alicia Whitting van Covid Flight Mpumalanga sê die invloed van die Covid-19 koronavirus sal nog baie tasbaar wees gedurende die volgende paar maande.
“Heelwat mense kry nog swaar en het hulp nodig. Maar aan die positiewe kant het die inperking diegene wat wou help nader aan mekaar gebring. Dit is ‘n voorreg om saam te werk met alledaagse mense, sakeondernemings en boere,” sê Whitting.
LEES OOK: Terug skool toe vir Hoërskool Nelspruit matrieks
