Olifantluise nou onder die vergrootglas – só kan jy bydra
Om ’n luis op ’n olifant raak te sien, is beslis nie die maklikste ding op aarde nie! Daarom vra ’n bewaringskundige by die Universiteit van Stellenbosch (US) die hulp van veeartse en mense betrokke in die wildbedryf met die insameling van dié kleine insekte, sodat die nodige navorsing oor hul verskeidenheid kan plaasvind.

Volgens prof. Sonja Matthee van die universiteit se bewaringsekologie- en entomologiedepartement in die Fakulteit AgriWetenskappe is olifantluise (Haematomyzus elephantis) kleiner as 1 cm en donker van kleur. Tipies sal hulle te vinde wees tussen die hare op ‘n olifant se slurp, stert, onderlyf of rondom die oë. Dit maak dit dus redelik moeilik om hulle met die eerste oogopslag raak te sien.

“Die maklikste is om op die uitkyk te wees vir hul eiers, wat soos fyn waterdruppels vassit op die hare,” vertel sy.
Matthee vra dat mense wat met olifante werk, wat byvoorbeeld gedurende verskuiwing of mediese ondersoeke verdoof word, ‘n oog sal oophou vir dié luise, en voorbeelde daarvan vir haar sal insamel en aanstuur.

Sy is ‘n kenner op die gebied van vlooie, luise en ander parasitiese insekte wat op Suid-Afrikaanse wildediere voorkom. Saam met haar studente bestudeer sy al die afgelope 20 jaar die verskeidenheid wat op enigiets van streepmuise tot pikkewyne voorkom. Verskillende soorte diere het elkeen hul eie soort vlooie en luise, vertel sy.
LEES OOK: Vrou soek werk voor haweloosheid haar vang
“Tans weet ons nog net van een luisspesie wat op beide Afrika en Asiatiese olifante voorkom. Ons wil kyk of dit wel die geval is, en of daar nie dalk nog is wat nie maar net misgekyk is nie,” vertel Matthee.

Sy pak die olifantstudie in samewerking met luiskenner, prof. Lance Durden van die Georgia Southern Universiteit in die VSA aan, met wie sy reeds sedert 2003 saamwerk. Medewerkers uit Australië en van die Hans Hoheisen Navorsingstasie in die Fakulteit Veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria sal hulle daarin bystaan.
Gedurende Matthee en haar kollegas se studie sal voorbeelde wat ingesamel word, geneties ontleed word. Die luise se uitwendige kenmerke sal ook deeglik bestudeer word, onder meer met behulp van elektronmikroskopie.

Dié parasiete behoort aan ‘n groep of suborde van drie spesies wat op soogdiere met sterk velle voorkom. Ook in dié suborde val vlakvarkluise (Haematomyzus hopkinsi) en Haematomyzus porci,‘n spesie wat op ‘n soort wildvark uit die woude van midde-Afrika voorkom.
LEES OOK: Vreugde blom tydens Afri Orchids opedag
