Verrassing-verlowing vir spesiale paartjie in Krugerwildtuin
Terwyl die algemene mens dalk met 'n goeie luiperd- of leeufoto by die hekke van die Nasionale Krugerwildtuin uitgaan, is Louri Botha aan die einde van Augustus met baie meer daar weg.

Met die hulp van hul toergids, Gerrie Smit van Kruger Gateway Safaris, het Johannes Streicher op 22 Augustus by die Mathekenyane-uitkykpunt in die wildtuin vir Louri Botha gevra om met hom te trou.
Hy wou haar eintlik al ‘n ruk lank vra, maar hierdie was die eerste geleentheid wat hulle vir ‘n wegbreek kon kry. En so is die Secunda-paartjie verloof.

“Ek het na ‘n privaat safari op die internet gesoek en op oom Gerrie afgekom. Ek het hom gekontak en hy het alles gereël – met ‘n privaat piekniek! Ek is so dankbaar vir hom en ek glo hy gaan ‘n familievriend word.”

Smit het gesê dié Engelse woorde is al hoe hy die ervaring kon beskryf: “Ek was completely and totally humbled om te kon deel wees daarvan. Daai twee kinders verdien elke goeie dingetjie (sic).”
‘n Oomblik wat vir Smit nogal snaaks was, was vroeg die oggend. Botha het gesê sy kry koud in die oop voertuig, maar Streicher moes haar sy baadjie weier aangesien die ring in sy sak was.
LEES OOK: Kim Kerswill-saak weer uitgestel
“Ek het vir haar gesê sy mag nie my baadjie aantrek nie, want ek is te heilig op hom,” het Streicher gesê.
Botha het gelag en gesê sy het glad nie agtergekom wat aangaan nie. “As ek nou terugdink, kan ek nie glo ek het niks vermoed nie.”

Sy kan nie noodwendig die spesifieke oomblik onthou wat sy besef het hy is die een vir haar nie, maar het gesê: “Ek glo ek het net eendag gedink en besef wat ‘n wonderlike mens Johannes is en agtergekom dat as ek hom deur my vingers laat glip, ek darem stupid sal wees.”
LEES OOK: Pastoor se familie vra vir gebede na ongeluk met kwadfiets
Sy het gespot dat haar eerste gedagte was dat die ring asseblief tog net moet pas.

“Dit was ‘n wonderlike oomblik. Ek het gedink hoe spesiaal dit is dat Johannes mý vra om vir die res van sy lewe sy vrou te wees. Jy weet… ‘Ek is die een’. Dit maak my so gelukkig.”
Streicher het sy aanstaande as ‘n oopkop en ‘n ystervrou beskryf, wat twee van sy gunstelingeienskappe van haar is. Die paartjie ken mekaar al bietjie meer as twee jaar en het by ‘n Jan Blohm-vertoning ontmoet.
Hy is eintlik ‘n Vrystater en sy is oorspronklik van Secunda, maar albei woon en werk nou in dié dorp. Botha bestuur ‘n supermark en drankwinkel wat haar familie besit, en Streicher is die algemene bestuurder by ‘n konstruksie- en mynboumaatskappy.
