Local newsNews

Rus sag, liewe Mienke

Baba Mienke Mulder is gister oorlede. Sy was drie jaar en sewe maande oud.

Laevelder het vir die eerste keer oor haar berig toe sy in Augustus 2017 by haar dagmoeder verstik het terwyl sy haar bottel gedrink het. Sy is met haar aankoms by Mediclinic Nelspruit dood verklaar.

Haar ma, Verna, het egter nie opgegee nie en by die dokters gesmeek dat hulle moet aanhou probeer. Na 15 minute het haar hart weer begin klop. Haar brein was vir 30 minute sonder suurstof.

Die slegte nuus was dat sy ernstige breinskade opgedoen het. Sy sou nooit kon loop, praat, sit of speel nie. Sy kon wel tussen lig en donker onderskei.

LEES OOK: Pastoor se familie vra vir gebede na ongeluk met kwadfiets

Die Laeveld-gemeenskap was baie betrokke by die lewe van die kleine Mienke en ‘n Facebook-groep, Please Pray For Mienke, het amper 60 000 lede. Boodskappe van simpatie het gister ingestroom op die groep.

“Ons as familie vra dat julle asb vir Ryno, Verna en kinders in julle gebede sal hou.

Hulle probeer net op die stadium self deur alles werk. Hulle deel graag met julle sodra hulle reg is. Hulle sal dit baie waardeer as julle op die stadium ruimte sal gee.

Ons waardeer julle liefde en omgee vir hulle opreg,” het Delmarie Steyn namens die gesin op Facebook gesê. Mienke laat haar pa, Ryno, haar ma, Verna, en haar twee sussies, Leané en Zamoné, na.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button