Local newsNews

Bekende paramedikus veg vir haar lewe

Lauren de Swardt se liggaamlike weerstand is so afgetakel weens ‘n rare longkanker wat sy sedert 2017 onder lede het, dat haar lewensgehalte in die slag bly.

Vir Lauren de Swardt, ‘n bekende paramedikus van ER24 in die stad, is lewens red ‘n passie. Maar nou is sy vir die tweede keer in haar 33-jarige leeftyd self besig om vir haar eie lewe te veg.

Sy moet dringend mediese behandeling ondergaan, maar haar mediesefonds dek dit nie. De Swardt is in Maart 2017, toe sy as paramedikus in Witbank gewerk het, letterlik “per ongeluk” met die uiters rare longkanker, Langerhans-silhistiositose (LHC), gediagnoseer.

Sy was besig om agter in die ambulans noodbehandeling aan ‘n kritiese siek dogtertjie te gee. Tydens die rit het die noodlot onverwags toegeslaan toe haar kollega wat die ambulans bestuur het, hard remme moes slaan toe ‘n voertuig voor hulle ingery het.

Sy is in die proses vorentoe geslinger en het met ‘n harde slag met haar borskas teen ‘n suurstofsilinder geval. “Ek het ‘n geweldige pyn in my bors gevoel maar het ten spyte daarvan voortgegaan met die noodbehandeling,” vertel De Swardt.

LEES OOK: Rus sag, liewe Mienke

Tydens ‘n skandering is vasgestel dat sy twee ribbes gebreek het. Terselfdertyd is verskeie onverklaarbare letsels op haat longe ontdek. “Niemand het geweet wat die oorsaak daarvan was nie.

‘n Gros mediese toetse moes gedoen word. ’n Maand na die skandering het die skok nuus gekom dat ek LHC het,” sê sy. Die kanker is so raar, dat selfs haar mediesefonds aanvanklik nie vir behandeling wou betaal nie.

Sy moes noodgedwonge tientalle chemoterapiebehandelings deurgaan om die kanker te beveg. Die vegter in haar, met die ondersteuning van haar kollegas by ER24, asook haar lewensmaat, Sumine de Swardt, het sy die kanker met mening beveg maar die stryd was baie dreinerend, nie net liggaamlik nie, maar ook emosioneel.

‘n Paar maande later in 2018 het sy ‘n ernstige terugslag beleef. “Ek was alleen by die huis en het skielik flou geword. Ek is eers 13 uur later ontdek waar ek steeds op die vloer gelê het.

LEES OOK: Pastoor se familie vra vir gebede na ongeluk met kwadfiets

Daar is toe vasgestel dat die kwaadaardige gewasse na my lewer, been en selfs beenmurg versprei het.” Sy moes weer ‘n reeks chemoterapiebehandelings ondergaan. In daardie stadium is sy ook medies ongeskik verklaar omdat daar geglo is sy sal nooit weer as paramedikus kon werk nie.

Die goeie nuus het in Januarie 2019 gekom dat sy in totale remissie was. Sy was vasbeslote om nie haar 14-jaar lange loopbaan op te gee nie. Sy het begin om haar kragte weer op te bou, tot so ‘n mate dat sy in Junie 2019 wéér as paramedikus by ER24 aangestel is.

Vroeër die jaar het sy na Mbombela verhuis, waar sy steeds vir dié ambulansdienste werk. “Ek love dit om op die pad te wees en my passie uit te leef, om mense in nood te behandel,” vertel sy.

“Ek gee steeds 100 % vir my werk, al is daar onderliggende moegheid as gevolg van my stryd teen die kwaadaardigheid in my liggaam. Ek is egter baie bevoorreg om, ten spyte van my tamheid wat soms toeslaan, steeds my dagtaak suksesvol te kan verrig,” sê De Swardt.

Lauren and Sumine de Swart

Onlangs het Cobus Els, direkteur van Avoda Health (‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie) aangebied om haar by te staan om haar lewengehalte te probeer verbeter. “Ons maak gebruik van osoonterapie, essensiële olies, vitamine- en minerale-doserings.

Dit is al die elemente wat ‘n mens se liggaam nodig het om sy ‘boublokkies’ te herbou. “Dit is die wyse waarop ons vir Lauren wil probeer help om onder meer die lae rooibloedsel-vlakke in haar liggaam wat deur die chemo afgetakel is, op te bou.”

Die grootse uitdaging tans is haar mediesefonds wat nie vir die behandeling betaal nie. Die koste vir ‘n ses-maande reeks behandeling gaan na raming R35 000 kos. Avoda Health het nou ‘n fondsinsameling van stapel gestuur om die mediese kostes te dek. Verskeie projekte word reeds beplan om geld in te samel.

Diegene wat ‘n bydrae wil maak, kan Els kontak by 084-602-5555 of avoda.ems@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button