Jagters doen hul deel om hongersnood te bekamp ten spyte van pandemie
Met 2020 se jagseisoen wat sy laaste doodskoppe gee, kan Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-span terugkyk na die hoogtepunte wat bereik is, ten spyte van uitdagings wat die nasionale inperkingsregulasies gebied het.

Margolé Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpJag, sê dat hulle altesaam 23 ton wildsvleis teen die einde van Augustus verlede jaar ingesamel het, en dit het gehelp om te sorg dat 8 000 kleuters deur Helpende Hand se #StopHonger- en #Kosblikkie-voedingskemas ’n gesonde bord kos by hul skole ontvang het.
“Vanjaar moes ons steeds sorg dat 8 000 kinders elke dag kos kry, maar omdat die skole vir lank gesluit was, moes ons reël dat hulle by hul huise gevoer word. Ons moes dus vir hulle én hul gesinne kos voorsien.
Nog ’n dilemma was die streng Covid-19-inperkingsmaatreëls wat verhoed het dat mense grense kon oorsteek om te gaan jag. Tog kon ons met die hulp van 126 jagters sorg om teen die einde van Augustus sowat 26,6 ton wildsvleis in te samel,” sê Riekert.
Sy sê gedurende die afgelope drie jaar van #HelpJag se bestaan, kon dié instansie met die hulp van sy ambassadeurs en Wild & Jag/Game & Hunt, ’n aantal van 68,6 ton vleis insamel.
Riekert noem dat een van die hoogtepunte ’n reuseskenking van 30 blesbokke was wat deur AfriForum se Hulpfonds geskenk is.
Nog ’n hoogtepunt was toe die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Appel, by die oud-Springbok Bakkies Botha en die sanger Adam Tas as ambassadeur aangesluit het.
Kort daarna is die #RandPerKilogram-inisiatief van stapel gestuur. In plaas daarvan om self te gaan jag, kan die publiek, selfs dié wat nie jag nie, ’n bedrag van so min as R35 ’n kilogram se wildsvleis skenk. Dié inisiatief word steeds gedryf.
LEES OOK: Bekende paramedikus veg vir haar lewe
In die Mpumalanga en KwaZulu-Natal noordstreek het goedgesinde wildsjagters skenkings van vleis hulle in staat gestel om vleispakkies saam met kospakkies te kon uitgee aan behoeftige gesinne, sowel as aan skole wat deel vorm van die #Kosblikkie-projek.
So vêr soos Pongola het hulle ‘n allemintige skenking van 450 kg se wildsvleis ontvang wat versend is na CMD in Pongola, aan wie hulle 100 kg se vleis geskenk het; aan Pongola Akademie kon hulle 150 kg skenk waar daar tans ‘n groot behoefte is as gevolg van inperking; Immergroen Ouetehuis in Piet Retief het 100 kg se wildsvleis ontvang vanuit hierdie skenking en aan die Suid-Afrikaanse Vroue-federasie in Vryheid kon hulle ook 100 kg skenk.

In die Laeveld het hulle ‘n wildskenking van ongeveer R900 ontvang, en kospakkies kon aangevul word hiermee deur vir elkeen ‘n pakkie vleis saam te gee.
Die Helpende Hand Volksrust-tak het ook vyf bokke ontvang wat verwerk is en saam met kospakkies uitgegee is.
In die Mpumalanga en KZN noordstreek het hulle ses bokke ontvang as skenking van ‘n goedgesinde wildsjagter. Hierdie vleis is verwerk na maalvleis en kookvleis wat dan saam met kospakkies uitgegee is.
Riekert sê hoewel die amptelike jagseisoen nou tot ’n einde gekom het, kan diegene wat nog beplan om te gaan jag of daar plase is wat wil uitdun, hulle #HelpJag kan kontak. Besoek www.helpjag.co.za vir meer inligting.
LEES OOK: Rus sag, liewe Mienke
