Local newsNews

Geloof, hoop dra klein MJ se ouers deur sy siekte

Vandat baba MJ Erasmus op 2 September in Mediclinic Nelspruit gebore is, is sy lewe vol uitdagings.

MJ is voor sy geboorte al gediagnoseer met klompvoetjies.

“Hoewel dit ‘n groot skok was, het ons na sy geboorte voorberei vir ‘n pad na herstel en behandeling. Dit is darem iets wat ‘n mens kan regstel met die korrekte behandeling,” vertel Adri, MJ se ma.

Maar niks kon haar en sy pa, Marius, voorberei op dit wat nog sou kom nie. Na MJ se geboorte was daar verskeie ander komplikasies.

“Ek kon nie eens sy gesiggie sien of hom vashou nie,” sê Adri. “Die pediater het hom dadelik na sy geboorte na die neonatale-intensiewesorgeenheid gehaas en kon hom uiteindelik, na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, stabiliseer.”

Kleine MJ sukkel om op sy eie asem te haal en daar is vasgestel dat hy met longontsteking gebore is. Hy is ook met hartversaking gediagnoseer, wat veroorsaak dat suurstoflose in plaas van suurstofryke bloed deur sy hart pomp. Sy stembande is boonop verlam, wat verder veroorsaak dat hy sukkel om op sy eie asem te haal.

Na ‘n paar konsultasies tussen die pediater, dr. Pierre Taljaard en sy kollegas by Netcare Sunninghill Hospitaal, is daar besluit om MJ so gou as moontlik na Sandton oor te plaas vir verdere behandeling.

Hy was te swak om met ‘n helikopter vervoer te word en is per ambulans Johannesburg toe geneem. Marius is saam met hom, terwyl Adri nog in die hospitaal moes herstel na die keisersnee.

LEES OOK: Renosters gevier op Wêreld Renosterdag

“Dit was die langste vier uur van my lewe,” vertel sy pa. “Wat dit nog erger gemaak het, was dat geen familielede vir MJ of vir Adri kon besoek nie as gevolg van die grendelstaat. Ons vyfjarige dogtertjie kon nie eens haar nuwe boetie, vir wie sy gebid het, ontmoet nie.”

Adri het die volgende dag ook by Sunninghill aangekom waar ‘n span dokters, gelei deur dr. Kenny Govendrageloo, ‘n pediatriese kardioloog, na MJ omgesien het. Hulle het sy ouers daarop voorberei dat hy ‘n hartoperasie sou moes ondergaan sodra hy sterk genoeg was.

Vriende en familie van oraloor het vir die klein seuntjie gebid. Omdat hy nog behandeling vir sy longe ontvang het, is daar besluit om met die hartoperasie te wag. MJ was geskeduleer vir ‘n magnetiese resonansbeelding (MRB) sodra hy met ‘n kleiner pypie kon asemhaal.

Dit is op 11 September gedoen en die volgende dag het die dokters sy ouers meegedeel dat sy hart heeltemal genees is en dat ‘n operasie nie nodig was nie.

“Dit kan net as ‘n wonderwerk beskryf word,” sê Marius.

Op Maandag 14 September het dokters hulle vertel van ‘n prosedure om die pyp wat hom help om asem te haal, te verwyder.

LEES OOK: Jagters doen hul deel om hongersnood te bekamp ten spyte van pandemie

“As hy dan nog sou sukkel om op sy eie asem te haal, sou hulle ‘n trageostomie moes doen, hoewel dit die heel laaste uitweg sou wees,” vertel Adri.

Hy het ook al stuiptrekkings gekry en die MRB het verskeie ander probleme uitgewys, onder andere dat sy corpus callossum glad nie ontwikkel het nie. Dít verbind die linker- en regterbrein.

“Dit is ongelukkig nie iets wat reggestel kan word nie en dit is die oorsaak van die meeste van MJ se probleme – sy klompvoetjies, die spasmas in sy beentjies en die feit dat hy sukkel om op sy eie asem te haal,” het MJ se tannie, Belinda Erasmus, vertel. “Dit is ‘n baie rare geboortedefek – net een in 4 000 kinders kry dit.”

Die familie het onlangs aan Jacaranda FM se Good Morning Angels ‘n brief gestuur waarin hulle vra vir hulp met fondse om mediese onkostes te dek. Vir meer inligting, kontak Belinda by 076-674-5536 of stuur ‘n e-pos na info@thirstybartender.co.za.

LEES OOK: Bekende paramedikus veg vir haar lewe

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button