Care Buddies gee steeds om vir die Laeveld se bejaardes
Care Buddies kuier weer soos altyd een keer 'n week by die verskillende aftreeoorde in Mbombela: Herfsakker, Phumalanga, Mataffin en Macadamia Orange.

“Ons het ook Care Buddies by Laeveldrus en Oranjezicht wie omsien na die seniors daar en wanneer ons ‘n funksie reël, word hulle ook genooi,” vertel Meisie Barnard, Nelspruit Care Buddies se voorsitter.
“Ons Care Buddy by Oranjezicht is ‘n engel wat met groot toewyding sorg dat almal versorg is en genoeg het om te eet.”
Toe kom Covid-19 en gooi al hulle planne omver, en beide die seniors en Care Buddies kry ewe swaar omdat hulle mekaar nie mag sien nie.
LEES OOK: Die Parmantige Samaritane se kuier in Barberton is ‘n besoek met ‘n doel

“Die inperking het ons egter nie gekeer om steeds vir hulle lief te wees nie,” sê Barnard.
Elke tehuis het ‘n leier wat verantwoordelik is vir die maandelikse reëlings. “Elke huisleier reël een maal per maand dat die seniors bederf word met snoeperye met teetyd en dan word die verjaarsdae vir die maand ook gevier.
“Ons het ook aan hulle gedink met Moedersdag en Vadersdag. Al die ma’s en pa’s het ‘n klein geskenkie gekry, en almal ‘n bederfie en eetgoed gekry.” Die personeel by die tehuise hou die Care Buddies op hoogte van die welstand van die inwoners.
“Ons wil vir hulle baie dankie sê vir hulle toewyding en liefde vir ons vriende,” sluit Barnard af.
LEES OOK: Laeveldse rugbylegende oorlede
