Local newsNews

Kragklagtes oor Ehmkestraat duur voort

Swak onderhoud en beplanning aan die kant van die Mbombela-owerheid, sonkragstelses, mense wat kriptogeld myn en kragstelsels wat oorlaai word, dra by tot die voortslepende onderbrekings in die stad.

Dit is veral die Ehmke-, Mostert- en Roodstraatkluster wat tans die hardste getref word. 

Die kragtoevoerprobleme wat in die stad ondervind word kan hoofsaaklik toegeskryf word aan twee faktore: aan die een kant is dit die verbruikers in die kluster, en aan die ander kant swak onderhoud en beplanning deur die owerheid. 

Dit is die gevolgtrekking wat gemaak word nadat Laevelder verlede week met verskeie kragkenners oor die tydige en ontydige onderbrekings gepraat het. Die koerant is die afgelope tyd oorval deur klagtes van veral sakemanne wat ondernemings in die gebied bedryf.

“Die probleem lê by die kragverspreidingsnetwerk wat oorlaai word,” sê ‘n plaaslike elektriese ingenieur wat verkies het om anoniem te bly.

Volgens hom is dit ironies dat die meeste onderbrekings omstreeks 08:00 begin wanneer sakeondernemings oopmaak. Ligte, rekenaars en lugversorgers word aangeskakel. Daar is dan eensklaps baie druk en die kragstelsel, wat deur die Anderson-substasie bedien word, kan nie bybly nie.

LEES OOK: Plaaslike kunstenaar kort hulp vir sy ‘big break’

Dan is daar ook swak beplanning en instandhouding van die kragnetwerk deur die owerheid. “Die kluster is oorspronklik as ‘n woongebied beplan en uitgelê,” sê Linda Grimbeek, hoofbestuurder van Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT). 

Die afgelope twee dekades is die meerderheid van die huise in kantore omskep. Baie daarvan is gesloop en multi-verdieping-woonstelle en sakegeboue is opgerig.

“Dit is hier waar Mbombela destyds al beter beplanning moes gedoen het. Die ontwikkeling het so vinnig geskied dat hulle nie kon byhou met die voorsiening van aanvraag nie.”

Steve Schormann, ‘n raadslid van die owerheid, sê daar is twee ander moontlike redes wat kan bydra tot die krisis. “Die hoeveelheid krag wat die myn van kriptogeld gebruik is astronomies. Die raad is besig met ‘n ondersoek oor die kuberplase in die kluster. Daar is skynbaar heelwat van hulle.” 

Die ander moontlike oorsaak van onderbrekings is inwoners en ondernemings wat sonkragstelsels opgerig het. Sulke aanleggings moet by die owerheid aangemeld word sodat sy ingenieurs die kragnetwerk kan balanseer.

LEES OOK: PappaChef en bekendes kattemaai en kook in die kombuis

Wanneer die sonkragstelsel skielik krag uit die netwerk begin trek, of selfs wanneer hulle ‘n oorskot daarvan in die netwerk laai, word dit onbestendig.

Grimbeek sê die siviele ingenieurs-afdeling van Mbombela het die verlede weke volstoom gewerk om netwerkfoute reg te stel.

“Die laaste probleme is verlede Maandag herstel. Die stadsraad het ook ‘n deel van die kluster se kragnetwerk na ‘n ander voerder in die Anderson-substasie oorgeswaai,” sê sy.

“Die elektriese afdeling het werklik alles gedoen wat hulle kon om die probleme aan te spreek.”

‘n Noodvergadering tussen die KLCBT en die owerheid was vir later die week beplan. Joseph Ngala, woordvoerder vir Mbombela, sê die grootste probleem was kabel- en transformatorfoute wat voor verlede week ontstaan het.

LEES OOK: Well-known and loved veterinarian loses battle against cancer

“Dit het tyd gevat, maar die lynfoute is een vir een hanteer. Teen verlede Maandag was kragtoevoer weer normaal.

“Verlede Maandagoggend was daar egter weer ‘n onderbreking en nog ‘n fout is by die Anderson-substasie, waar een van die verspreidingseenhede nie die verhoogte kraglading reg hanteer het nie, ontdek. Dit is Dinsdag herstel en ons glo die kragkrisis is voorlopig iets van die verlede,” sê Ngala.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button