Slaan af saam met Ampie by die Sunbake Innibos Gholfdag
As jy nog altyd saam met ‘n bekende wou gholf speel, is nou jou kans. Op 10 Desember het jy die geleentheid om saam met Ampie ‘n vierbal by die Sunbake Innibos Gholfdag te deel.

Die byeenkoms word aangebied ten bate van die Innibos Meridian Educational Trust.
“Die program word by Curro Meridian aangebied. Die koste daarvoor beloop R70 000 per leerder per jaar en ons poog om genoeg in te samel om volgende jaar twee leerlinge die kans op ‘n skoolloopbaan te gee,” vertel Mariolise le Roux, Innibos se bemarkingsassistent.
Die koste dek koshuis- en skoolfonds, skooluniform, beddegoed, skryfbehoeftes en ‘n tablet. Leerders wat die beurse ontvang kom uit behoeftige omstandighede.
LEES OOK: Plaaslike kunstenaar kort hulp vir sy ‘big break’
Hul ouers verdien ‘n gesamentlike inkomste van minder as R10 000 per maand en hulle het almal die vermoë om skool te voltooi en universiteit by te woon.
“Met die hulp van ander borge het ons tot dusver 10 leerlinge op die program en sal dit wonderlik wees as ons die groep kan uitbrei in 2021,” sê sy.
Die byeenkoms vind by Mbombela Gholfklub plaas en beloof om ‘n heerlike dag te wees.
Ander borgskapgeleenthede van putjies is ook beskikbaar en daar is wonderlike pryse sowel as ‘n veiling om aan deel te neem.
Spelers kan teen R450 die dag geniet. Navrae: Le Roux by mariolise@innibos.co.za of tel:0716023857.
LEES OOK: PappaChef en bekendes kattemaai en kook in die kombuis
