Liefdadigheid én leed by Barberton DBV
Die BMW Motorrad Club Lowveld is Sondag na die Barberton DBV toe om kosskenkings af te laai. Die dag het ongelukkig ook 'n hartseer draai gevat toe die bestuurder op 'n hond afkom wat buite die perseel aan 'n boom vasgemaak is - geen kos, geen water.
Die klub het Sondag die dorp se DBV bederf met ’n kuier en kosskenkings as deel van sy liefdadigheidsuitryk.
Daar aangekom, is lede van die klub ontvang deur Lana Renken, hondehokbestuurder, en Marlies Liebenberg, sekretaresse.
Beide was duidelik dankbaar vir die skenkings en Liebenberg het gesê dat dit hulle gaan help om dit deur die Kersseisoen te maak. “Barberton is nie ’n groot dorp nie, dus is dit nie altyd vir ons maklik om fondse in te samel en skenkings te kry nie. Daarom is wat julle vandag hier vir ons gedoen het, ongelooflik.”


Daar is natuurlik ook die onstellende deel van die werk waarmee Renken, Liebenberg en hul kollegas te doen kry. Iemand het op dié Sondag wat met dankbaarheid gevul is, besluit hulle kan (of wil) eenvoudig nie meer vir hulle dierekind sorg nie.
Renken het op ’n jong hond afgekom wat buite die hokke aan ’n boom vasgemaak is – geen water, geen kos.

“Ek raak buite myself. Hulle laat weet my nie, hulle laat weet nie die vrou wat vanoggend hier skoongemaak het nie; hulle los die hond daar sonder kos of water.
“Dis ’n baie oulike seuntjie, hy is nog jonk en hy wil jol. Hy weet nie wat aangaan nie, maar ek het vir hom ’n kombersie gegee en hy is nou veilig.”

Renken het gesê die noodnommer is duidelik te sien en sy het altyd die diensfoon by haar.
ALSO READ: TWK donates to PCA, gives little girl chance at life
Soms kom sy selfs op honde af wat aan ’n boom opgehang is. “Ek het dit al baie gesien. Gelukkig kom ek gewoonlik op hulle af terwyl hulle nog lewe,” vertel sy.



