Local newsNews

Covid-19: Dra weer jou wit strikkie vir ondersteuning en nuwe hoop

Vandag vra Helpende Hand die publiek weer om op te staan en samehorigheid vir 2021 te toon deur nuwe lewe in die #Witstrik-inisiatief te blaas. 

Die liefdadigheidsorganisasie, Helpende Hand, het in Maart ‘n beroep op die publiek gedoen om wit strikke te dra. Dié simboliseer solidariteit met dokters en mediese personeel wat tans in die voorste linies werk om Covid-19 te bekamp. Vandag vra Helpende Hand die publiek weer om op te staan en samehorigheid vir 2021 te toon deur nuwe lewe in die #Witstrik-inisiatief te blaas.

René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie vir Solidariteit Helpende Hand, sê dat die gebaar laasjaar talle mense byeengebring het om vir een saak saam te staan.

“Die bedoeling met die #Witstrik-inisiatief hierdie jaar is nie net om ons dankbaarheid te betoon en die personeel in die voorste linies in gebed op te dra nie, maar om te wys wie of wat vir ons gerusstelling gee, veral noudat ons ‘n nuwe fase van hierdie vreemde virus betree.

“Ons is ryp in die nuwe jaar, maar alreeds is daar vrees en onsekerheid onder die mense in ons land. Mense wat die afgelope jaar geliefdes verloor het, ondernemings verloor het en selfvertroue en geloof verloor het. Helpende Hand glo dat ons hoopdraers van die beste gehalte is en ons wil graag saam met die mense in Suid-Afrika hoop vir 2021 bring.”

Volgens Roux kan enige persoon ‘n wit strik maak en dit by enige plek gaan plaas of aan iemand gee wat vir hulle gerusstelling, liefde of hoop gebring het, en steeds bring.

LEES OOK: Laat jou stem gehoor word met hierdie unieke talentsoektog

“Om in dankbaarheid terug te kyk en in hoop vorentoe te beweeg, skep vir ons ‘n gedagtegang van geloof in die toekoms. Ek was en is dankbaar vir ons boere wat ten spyte van moeilike tye steeds aanhou help en gee het, en gaan dus my wit strik om ‘n nabygeleë boer se plaashek hang.

“Ons vra die publiek om foto’s te neem van waar en by wie hulle hul wit strikke gaan uitdeel het. Plaas dit gerus op sosiale media met die hutsmerk #Witstrik, want ons wil graag saam met julle deel in julle hoop en dit wat gerusstelling gee,” sê Roux.

Gaan hang jou wit strik met deernis aan ‘n hospitaaldeur of om die boom van jou bure wat vir jou kos tydens die grenstydperk aangedra het. Gee die vriendin wat aanhou skakel het om te hoor of sy met die kinders kan help ‘n wit strik. Knoop ‘n wit strikkie om jou hond se halsband omdat hy jou tydens afsondering gerus gestel het. Plaas jou wit strik daar waar jy al vrede gevind het en waar jy dit steeds in 2021 sal vind.

“Ons moet onthou dat ons deur ‘n onvoorspelbare jaar is en dat ons nou ‘n nuwe hoofstuk van ons toekoms betree wat ons óf positief óf negatief kan aanpak. Die nuwe beperkings so vroeg in die nuwe jaar maak ‘n mens bietjie moedeloos. Ons moet iets tasbaars doen en onthou dat daar in selfs iets kleins hoop en genade vir ons wag. Kom ons gee ons wit strikke, wees positief, bring hoop en tree hierdie jaar sterk in,” sluit Roux af.

LEES OOK: Gebede gevra vir pastoor in intensiewe sorgeenheid

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button