Local newsNews

Laeveldse pionier sterf maand voor 100ste verjaardag

Marie Bosman, gebore op 7 Februarie 1921, het vir meer as 70 jaar van haar lewe in die Laeveld gebly waar sy diep spore getrap het.

Tannie Marie is op 7 Januarie oorlede, ’n maand voor sy haar 100ste verjaardag sou vier. 

In haar kinderjare het sy vir ’n kort tydjie op Lydenburg skoolgegaan en het na 1929 haar skoolloopbaan op Witrivier voltooi.

Van hier af het sy na Nelspruit verhuis waar sy vir die algemene handelaar gewerk het. Dit is ook hiér waar sy haar eggenoot, Gert Bosman, ontmoet het. Hulle is in 1945 getroud, en hul paadjies het slegs geskei na oom Gert se afsterwe in 2009.

LEES OOK: Laat jou stem gehoor word met hierdie unieke talentsoektog

As gemeenskapslid het tannie Marie haar toegespits op liefdadigheidswerk, hoofsaaklik deur middel van haar bobaas koeksisters.

Volgens haar seun, Dr Danie Bosman, plaaslike tandarts, het sy vir “liefdadigheid letterlik miljoene koeksisters gebak om die wêreld ’n beter plek vir die armes te maak”.

En nie net vir armes nie. Dié einste koeksisters het ook gehelp met befondsing vir ouetehuise in beide Mbombela en Witrivier.

LEES OOK: Encounter with hippo nearly loses man his leg

Sy het ook haar eie familie ondersteun met die bak van trou- en ander koeke. Hierdie passie het haar ook die posisie van hoofopsigter by die Laeveldskou se gebakafdeling besorg.

Verder was sy nou betrokke by kerk- en vroueverenigings, asook by die kankervereniging waar sy weer eens ’n groot rol gespeel het met die insameling van fondse.

“Sy het eenkeer met ‘n fondsinsameling vir ’n week lank 3 000 koeksisters per dag gebak. 

“Omdat die mense baie koeksisters geëet het, het ek maar besluit dit sal ‘n bargain wees as ek ‘n tandarts word.”

Tannie Marie het in 2000 na Krugersdorp verhuis, waar sy nog tot op die ouderdom van 99 bedsokkies en serpe gebrei het vir die wat die nodig gehad het. 

LEES OOK: Lower Sabie Rest Camp temporarily closed

Dr Bosman vertel hoe sy tot op die einde nog ’n vurige Bloubul- en Springbokondersteuner was. “Sy het nie ‘n wedstryd op TV gemis nie en het daarna altyd kritiek gelewer op sommige spelers.”

Sy laat haar twee kinders, Danie en Cecilia, en ook haar kleinkinders, Gerhard en Michelle, na.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button