Local newsNews

KYK: Gesin se motor afgeskryf na werker by vulstasie in hom vasry

In Oktober verlede jaar kon Freddie en Bianca Grundling na agt jaar se gesukkel met ’n onbetroubare motor ’n Nissan X-Trail koop nadat ’n familielid vir hulle die geld geleen het.

Die verligting oor hulle vervoerprobleme uiteindelik opgelos was, was groot.

Die Grundlings woon op ’n plaas buite die dorp en het twee jong kinders, Peter (11) en Roxy (8), wat elke dag by die skool moet kom. Bianca werk ook op twee plekke om die gesin te help om kop bo water te hou. Dit beteken dat sy vervoer nodig het om elke dag by die werk uit te kom. Maar die verligting was van korte duur.

Verlede Dinsdag (9 Februarie) het Bianca die motor by die Total-vulstasie in Steiltes laat was soos wat sy vir die afgelope 10 jaar elke week doen. Sy werk by Kabouterland-kleuterskool oorkant die straat en dit was gerieflik naby vir haar.

Toe ’n werknemer van die vulstasie haar die middag kom roep om vir haar te sê dat haar motor gestamp is, kon niks haar voorberei op die skade aan haar droommotor nie.

In ’n video wat tans op sosiale media die rondte doen kan ’n mens duidelik sien hoe haar motor, wat in die parkeerara van die karwas gestaan het, deur ’n Hyundai Tucson wat uit die was-area gejaag het, gestamp word. Laevelder het intussen bevestig dat die Tucson aan ’n werknemer van die Total-vulstasie behoort.

 

“Toe ek by die vulstasie aankom, is ek deur die eienaar van die onderneming, Stephan Pinker, in kennis gestel dat ek by my versekering vir die skade moet eis en dat my versekering dan met sy versekering sal praat. “Hy het vir my gesê dat hy die persoon wat die Tucson bestuur het dadelik afgedank het, omdat hy nie ’n lisensie het nie. Ek kon dus nie die besonderhede kry van die persoon wat my kar gestamp het nie, want hy was reeds weg.

“Niemand by die vulstasie het aangebied om my te help nie. Ek moes self vervoer reël vir my motor, wat na die stamp glad nie kon ry nie. Ek het vir twee ure daar gewag. Niemand het eers vir my ’n glas water aangebied nie,” sê sy.

Die Grundlings se versekering het hulle intussen laat weet dat die motor afgeskryf is. Omdat hulle die motor so onlangs gekoop het, skuld hulle nog heelwat en nadat hulle bybetaling afgetrek is, is die bedrag wat hulle van die versekering sal ontvang sowat R50 000 minder as wat hulle nog op die motor skuld.

Volgens Caz Dry, die Grundlings se prokureur, het hy sy bes probeer om Pinker te kontak om die situasie te probeer beredder, maar met min sukses. “Pinker het nie my boodskappe beantwoord nie.” Hy kon ook nie daarin slaag om met Total SA te praat nie.

In antwoord op vrae deur Laevelder, het Total SA die insident bevestig. Hulle het egter ontken dat die bestuurder wat die ongeluk gemaak het afgedank is. Volgens die maatskappy is die werknemer geskors en daar sal ’n dissiplinêre verhoor gehou word. Hulle het nie gereageer op die bewering dat die werknemer nie ’n lisensie gehad het nie.

SIEN OOK: Laerskool Laeveld verwelkom graadeens

Nadat Pinker se prokureur, Izak du Toit van Seymore, Du Toit en Basson, hom uiteindelik gisteraand gekontak het, het Dry ’n brief aan Seymore en Du Toit gerig, waarin hy vra vir ’n ex-gratia betaling van Pinker om sy kliënt te vergoed vir die skade wat nie deur die versekering betaal sou word nie. Die versoek is geweier.

In ’n brief aan Dry, sê Seymore en Du Toit dat dit hulle opdrag is om geen eise van die Grundlings te betaal nie. Intussen gebruik die Grundlings Freddie se werksbakkie om mee oor die weg te kom. “Dit is baie sleg. Die kinders moet agterop sit en as dit reën, word hulle papnat,” sê Bianca. “Deur die dag het my man die werksbakkie nodig, so ek het dan nie vervoer nie. My werkgewers moet my elke dag tussen my twee werksplekke rondry.”

LEES OOK: Laerskool Nelspruit heet hul graadeens welkom

Hulle het geen idee hoe hulle weer ’n ander voertuig sal kan bekostig nie.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button