Liefie die worshondjie is weer veilig tuis
'n Plaaslike vrou is die naweek deur 'n rillerrit van emosies nadat haar worshondjie, Liefie, tydens 'n inbraak weggeraak het.

Anneke van Schoor het Saterdagaand ‘n boodskap op Facebook geplaas waarin sy die gemeenskap vra om op die uitkyk te wees vir die verlore hondjie.
Liefie is ‘n gebore met ‘n haaslippie, ‘n hartgeruis en ‘n stomp stert. Sy is as pasgebore baba deur haar ma verwerp en Van Schoor het haar ingeneem en met die hand grootgemaak.
Van Schoor vertel van die angswekkende aand toe Liefie nêrens te vinde was nie.
“Ek het om 22:00 by die huis gekom na ‘n vergadering en het die honde in die huis hoor blaf. Gewoonlik maak ons hulle op die stoep toe vir veiligheid, maar hulle was almal in die huis,” sê sy.
Dit is toe dat sy en haar seun, CJ, opmerk dat die televisie nie meer op sy plek in die plaashuis staan nie.
“Ons het dadelik ‘n boodskap op die plaasgroep uitgestuur. Ons het toe al die honde in die waskamer bymekaargemaak vir wanneer die sekuriteitspersoneel en polisiebeamptes sou opdaag. Dit is toe dat ons agterkom dat daar nie agt honde is nie, maar net sewe.”
Sekuriteitsmaatskappye het die polisie ontbied en daar is bevind dat daar onder andere sakrekenaars, ‘n televisie en ‘n kamerasak met drie kameras en drie lense gesteel is.
ALSO READ: Liefde blom by Bingelela Valentynsfliek
Van Schoor se oorlede pa het twee van die kameras vir haar gegee en dit het baie sentimentele waarde gehad. Van Schoor was egter meer bekommerd oor haar vierbeenkind.
“Ek het al gelees van vorige inbrake waartydens die diewe die klein hondjie in ‘n sak toemaak en bo-in ‘n kas bêre. Ek het oral in die huis gesoek om te kyk of hulle nie dieselfde met Liefie gedoen het nie.
“Ek het Liefie self grootgemaak vandat sy 12 ure oud was. Sy het skaars 136 gram geweeg. Sy is soos een van my kinders.”
Van Schoor se stem is hees ná sy Sondag op en af die plaaspad naby Shandon Estate geloop het om na Liefie geroep het. Sy het haar huiswerker, Esther Sifunda, ook gevra om op die uitkyk te wees vir Liefie op pad werk toe.
“Esther is baie lief vir die honde. Sy groet hulle altyd eerste – nog voor sy my groet,” vertel Van Schoor. “Sy is veral lief vir Liefie.”
Maandagoggend kry Van Schoor ‘n oproep van Sifunda af.
“Ek het vir Liefie gekry! Ek het vir Liefie gekry!” “Ek het sommer begin huil,” sê Van Schoor.
LEES OOK: Spuit-en-gaan by CANSA Shavathon
“Esther is vir my die regte held in hierdie storie, en ek het vir haar gesê dat die beloning van R1 000 hare is.”

Sy vertel verder dat die hulp van die gemeenskap ‘n groot impak op haar gemaak het.
“Mense van oraloor die land en selfs die buiteland het my gekontak en gevra hoe hulle kon help. Een vrou het selfs aangebied om ‘n spoorsnyer te borg om Liefie op te spoor.”
Van Schoor is so gelukkig dat Liefie weer tuis is, dat sy dit met die hele gemeenskap wil deel.
Liefie sal Saterdag van 10:00 af by Friends Café op die Kaapsehoop-pad wees indien mense haar wil ontmoet, en sodat Van Schoor almal kan bedank vir hulle ondersteuning.
“Ek sal ook graag weer wil teruggee aan die gemeenskap, en wil vra dat elkeen wat ‘n draai kom maak om Liefie te kom groet, ‘n sak honde- of katkos saambring sodat dit aan die DBV en ProLife geskenk kan word om dankie te sê vir alles wat hulle vir ons diere doen.”
LEES OOK: Rangskik só jou pokergesig vir liefdadigheid
