Koel af met ‘n koue happie
Oom Des het onlangs beroemd geraak op Facebook toe iemand 'n foto van hom in die waentjie geneem het en mense aangespoor het om hom te gaan ondersteun.

Wat is dan lekkerder as ‘n yskoue bederfie op ‘n warm Laeveld-dag? Desmond (Des) Brummer is deesdae elke dag te sien by die Westend-winkelsentrum in sy “Ice Age Shaved”-waentjie.
Oom Des het onlangs beroemd geraak op Facebook toe iemand ‘n foto van hom in die waentjie geneem het en mense aangespoor het om hom te gaan ondersteun.
“Ek daag elk van julle uit om die oom te ondersteun; hy het ‘n hart van goud. Hy vra R10 vir ‘n klein ice cone en R20 vir ‘n grote. Dink ‘n bietjie daaraan hoeveel hy moet verkoop om net kos op die tafel te sit.
“Dit gaan swaar daar buite, maar jou R20 wat jy dalk te veel het kan vir die oom genoeg wees,” het die plasing deur Dunrue van Zyl op die Nelspruiters Facebook-groep gelui.
Alhoewel die waentjie nie self aan oom Des behoort nie, werk hy elke dag van 09:00 tot 17:00 om ‘n bietjie kommissie te verdien.
“Ek verdien maar ‘n klein staatspensioen, skaars genoeg om my verblyf te dek,” vertel oom Des.
“Ek het nog ‘n werk gesoek wat ‘n aanvulling kan wees, en ek was baie gelukkig om hierdie geleentheid te kon kry.”

LEES OOK: Liefie die worshondjie is weer veilig tuis
